2013-03-06: Bejaarde paar oorval; man skiet aanvaller

http://www.beeld.co.za<br>
Kontak Beeld deur op "Kontak ons" heel onder op die webblad te kliek.

Moderators: GenMod, AfrMod

2013-03-06: Bejaarde paar oorval; man skiet aanvaller

Postby GOSA » Wed, 2013-03-06 10:02

http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/B ... r-20130306

Bejaarde paar oorval; man skiet aanvaller
2013-03-06 08:18

Anena Burger

UPINGTON. – Skok het gister hier geheers nadat ’n bejaarde egpaar van die distrik in hul plaashuis aangeval en aangerand is.

Die aanvaller is in die plaashuis doodgeskiet.

Die bejaarde Albert Strauss (81) en sy vrou, Chrissie (72), is Maandagaand beseer in ’n aanval in hul huis op die plaas Toekoms, sowat 20 km buite die dorp.

Die beseerde Albert, wat sy vrou verwoed teen die aanvaller beskerm het, het uiteindelik die aanvaller doodgeskiet.

Die Strauss-egpaar se seun, Johan, sê die aanvaller is vermoedelik by die agterdeur van die goed-beveiligde plaashuis in terwyl sy ma in die aangrensende waskamer doenig was. Die aanvaller het toe vermoedelik in die studeerkamer weggekruip.

Strauss sê sy ouers se hondjie was die hele aand onrustig. Sy ma het onraad vermoed en wou om hulp bel toe sy in die kombuis oorval is. Sy het gegil en sy pa, wat in die bed was, het haar te hulp gesnel.

Lt. Andrea Cloete, polisiewoordvoerder, sê toe Albert in die kombuis kom, was die aanvaller besig om sy vrou te wurg.

Toe Albert sy vrou wou help, is hy en sy vrou geskop en vermoedelik met ’n stok geslaan.

Albert het verbete geveg om sy vrou te beskerm.

In sy stoeiery met die aanvaller het hulle in die hoofslaapkamer beland waar die aanvaller ’n stuk kasdeur afgebreek en hom daarmee geslaan het.

Albert se hand is erg beseer en hy het geval.

Die aanvaller het weer in die rigting van die kombuis gehardloop waar Chrissie was.

Cloete sê Albert het opgestaan en sy pistool gegryp. Hy het die aanvaller agternagesit en twee skote geskiet. Een van die skote het die aanvaller in die keel getref. Hy is in die huis dood.

Johan, wat sowat 10 km van sy ouers af boer, sê sy ma het hom gebel en hy wou nie glo wat sy sê nie: “Ek het eers gedink sy maak ’n grap en haar nog gevra of sy seker is, maar ek kon dadelik in haar stem hoor daar is groot fout.

“Dit is verkeerd dat so iets met twee ou mense gebeur. Dit hoort nie so nie. Mens kom nie net in ’n ander mens se eiendom in en val twee weerlose mense aan nie.”

Die Strauss-egpaar is in die hoësorgeenheid van die Mediclinic opgeneem.

Volgens die hospitaalbestuurder, Johanna van Niekerk, is hulle in ’n bestendige toestand.

“Hulle is aangerand en sleg geskop en geslaan, maar doen goed in die omstandighede. Hulle word in die hoësorgeenheid gehou vir waarneming.”

Die identiteit van die aanvaller is teen druktyd nog nie bekend gemaak nie.
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Beeld

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 0 guests

cron