2013-03-04: Bejaarde (88) sê hoe ‘polisie’ haar wurg

http://www.beeld.co.za<br>
Kontak Beeld deur op "Kontak ons" heel onder op die webblad te kliek.

Moderators: GenMod, AfrMod

2013-03-04: Bejaarde (88) sê hoe ‘polisie’ haar wurg

Postby GOSA » Wed, 2013-03-06 10:01

http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/B ... g-20130304

Bejaarde (88) sê hoe ‘polisie’ haar wurg
2013-03-04 22:55

Hanti Otto

Die rowers in polisie-uniform het die tannie, nou 88 jaar oud, gewurg, geslaan en ’n vuurwapen teen haar kop gedruk.

Maar toe hulle uit haar kamer loop, het sy met haar vasgebinde hande en voete van die bed afgerol.

Haar hande was voor haar vasgebind en sy het haar pistool onder die bed raakgevat.

“Toe sit ek op die grond, my rug teen die bed met die pistool in my vasgemaakte hande op die deur gerig. Ek het geweet as hulle nou terugkom, is ek dood,” het Francina Albertina Brink gister in die Pretoria-Noord-streekhof getuig.

Die oomblik toe sy ’n mansfiguur sien, het sy geskiet. Maar dit was ene Johannes, ’n werker wat self vasgebind was en vir “Ouma” wou kom help nadat die rowers gevlug het. Hy is net deur die vinger geskiet.

Brink is met ’n rolstoel in die hofsaal ingebring, want sy loop moeilik. Tydens die rooftog in September 2010 het sy met ’n kierie geloop.

Thabo Moumakwe, Nico Sho­kwane, Abnar Moreti, Herman Mtshebi, Lucky Maepa, Kala Baloko, Tshepo Masemolo en Tlou Mashalane het gister skuld op 21 aanklagte van onder meer sameswering om ’n roof te pleeg, roof met verswarende omstandighede, poging tot moord, rig van ’n vuurwapen en voorgee hulle is polisie, ontken.

Mtshebi het op die Bon Accord-hoewe, noord van Pretoria waar Brink en haar kinders bly, gewerk.

Maepa en Masemolo was polisiebeamptes.

Maepa het glo die dag voor die rooftog polisie-uniforms by die Silverton-stoor aangevra.

Brink het getuig dat Mtshebi op 15 September 2010 die twee “groot en kwaai” boerboele toegemaak het, glo omdat daar ’n gat in die heining was.

Teen 13:00 het Rebecca, ’n huiswerker, aan haar gesê die “polieste is hier. Hulle kom kyk vir die Zimbabwiërs se papiere”.

Brink het met Rebecca se hulp na die “gaste” gestap.

“In die eetkamer sien ek van ons mense (werkers) op hul knieë staan, vasgebind. Ek het ’n polisieman in uniform gesien,” het Brink getuig.

Die man het haar aan die arm na haar kamer gevat.

“Ek het nog al die tyd gedink hy is ’n polisieman en gevra hoekom haal hy my horlosie af. ’n Ander man met ’n polisie-bulletproof het gevra vir geld,” het Brink gesê.

Hy het aan haar gesê: “Moenie dink ons maak speletjies nie. Vandag is jy dood”, en die wapen teen haar kop gedruk.

Brink het bewend vertel hoe die mans haar herhaaldelik in die gesig geslaan en met ’n hemp gewurg het.

Die verhoor gaan later vandeesmaand voort.
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Beeld

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 0 guests

cron