2011-04-26: Wapeneienaars wil hof toe oor herlisensiëring

http://www.beeld.co.za<br>
Kontak Beeld deur op "Kontak ons" heel onder op die webblad te kliek.

Moderators: GenMod, AfrMod

2011-04-26: Wapeneienaars wil hof toe oor herlisensiëring

Postby GOSA » Thu, 2011-04-28 10:43

http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/W ... g-20110426


Wapeneienaars wil hof toe oor herlisensiëring
2011-04-26 23:31
Jeanne-Marié Versluis


Die Suid-Afrikaanse Vuurwapeneienaarsvereniging (Saga) wil 'n
interdik bekom om die polisie te keer om voort te gaan met
wapen-herlisensiëring kragtens die Vuurwapenbeheerwet van 2000.


Dit kom nadat die hooggeregshof in Pretoria einde Julie verlede
jaar gelas het alle vuurwapenlisensies wat ingevolge die Wet op
Vuurwapens en Ammunisie van 1969 uitgereik is, bly geldig tot
daar 'n uitslag is oor die hofgeding oor die grondwetlikheid van
die nuwe wet.


Die Saga-trust en ses vuurwapeneienaars (applikante) gaan die
interdik-aansoek in dié hof teen die minister van polisie en die
polisiehoof bring.


'n Datum daarvoor is nog nie bekend nie.


Dié ses eienaars se aansoeke om herlisensiëring is luidens
hofstukke afgekeur omdat hulle nie voldoen het aan die nuwe wet
met betrekking tot die aantal of soort wapens in elk se besit
nie.


Die applikante vra ook 'n hofbevel wat verklaar dat alle mense
wie se herlisensiëringsaansoeke onder die nuwe wet afgekeur is,
steeds geldige lisensies het onder die ou wet.


Mnr. Charles Lotter, trustee van Saga, sê in hofstukke dit is
duidelik die polisie is eenvoudig nie in staat om die nuwe wet te
administreer nie.


Hy sê die minister het in November 2010 op 'n mediakonferensie
gesê die hernuwing van 'n lisensie kan tussen vyf maande en ses
jaar neem.


Volgens Lotter het mnr. Martin Hood, Saga se prokureur, twee keer
'n pleidooi gelewer dat die herlisensiëringsproses opgeskort word
omdat die hofsaak oor die nuwe wet nog nie afgehandel is nie.


Volgens Lotter het me. Jenni Irish-Qhobosheane, sekretaris van
polisie, egter "kategories" gesê dié proses sal nie opgeskort
word nie.


Lotter sê 'n "beduidende aantal" wapeneienaars het om
herlisensiëring van hul wapens aansoek gedoen. Dit blyk egter dat
selfs meer eienaars nié daarom aansoek gedoen het nie.


Hy sê Prinsloo se bevel laasjaar het effektief die
herlisensiëringsproses opgeskort.


Die minister moet nog beantwoordende hofstukke in daardie hofsaak
indien, hoewel Prinsloo se tussentydse bevel meer as 18 maande
gelede gelewer is, sê Lotter.


Die ses betrokke wapeneienaars is nou, volgens die
vuurwapenappèlraad, onwettig in besit van wapens en word deur
"uiters ernstige minimum gevangenisstrawwe" in die gesig gestaar.


Hy sê die 15 766 lisensies wat glo teen 25 November verlede jaar
deur die polisie geweier is, gaan waarskynlik heelwat meer word
soos die polisie die hernuwingsagterstande hanteer.


Meer wetsgehoorsame burgers sal dus strafbaar gemaak word, want
hulle sal van mening wees dat hul ou lisensies geldig bly totdat
die hofsaak afgehandel is.


"Dit volg dat die polisie op enige tyd dié mense kan arresteer en
aankla vir onwettige besit van 'n vuurwapen."


Dat dié mense strafbaar gemaak word omdat hulle die wet
gehoorsaam, is "ongerymd en irrasioneel".
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Beeld

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 0 guests

cron