2011-04-14: Tyd om die wapens neer te lê

http://www.beeld.co.za<br>
Kontak Beeld deur op "Kontak ons" heel onder op die webblad te kliek.

Moderators: GenMod, AfrMod

2011-04-14: Tyd om die wapens neer te lê

Postby GOSA » Mon, 2011-04-18 08:59

http://www.beeld.com/Rubrieke/Dana-Snym ... e-20110414


Tyd om die wapens neer te lê
2011-04-14 23:00
Dana Snyman


Donderdagoggend kom staan Johannes Bogotsi by my waar ek besig is
om die goed in Pa se bedkassie in 'n leë skoendoos te pak: Die
botteltjies pille en homeopatiese druppels, die kissie met die
mansjetknope in, 'n bottel Old Spice-naskeerroom.
"Wat van jou pa se gewere?" vra hy. "Wat gaan jy daarmee maak?"


Dan eers tref dit my: Ek, wat nog nooit in my lewe 'n vuurwapen
besit het nie, is nou die eienaar van drie gewere en 'n pistool.
Dit is deel van die goed wat Pa aan my bemaak het.


Ek stap agter Johannes aan na die studeerkamer waar Pa die gewere
weggesteek het.


Pa wou nie 'n kluis hê nie, want hy het gesê wanneer hulle jou in
jou huis oorval, vra hulle heel eerste waar die kluis is, dan
skiet hulle jou met jou eie geweer dood.


Johannes, wat die laaste agt jaar vir Pa gewerk het, buk agter 'n
kas in en gee vir my 'n lang, bruin leersak aan. Die sak se
ritssluiter is stram. Binne-in is die 308 wat Pa lank gelede in
Kimberley gekoop het.


Is dit met hóm waarmee ek daardie keer die vlakvark op oom Danie
Wepener se plaas gekwes het? Ek is nie meer seker nie.


Ek het op die ouderdom van twaalf begin jag en kort daarna
opgehou, net nadat ek daardie vlakvark gekwes het.


Johannes gee ook die sak met haelgeweer vir my aan, dan iets wat
in 'n kombers toegedraai is.


Ek draai die kombers los en dan lê die 303, 'n Lee Enfield wat
uit die Boere-oorlog se tyd kom, swaar in my hande. Die
veiligheidsknip is aan. Ek wikkel dit los. Die magasyn is vol
gelaai en in die loop wag 'n koeël. Die geweer was reg om te
skiet.


Is dit nog só van 1994 af, toe baie mense hier in Ventersdorp,
insluitend Pa, bang was vir wat die nuwe Suid-Afrika kort ná die
verkiesing kon bring?


"Ek gaan hierdie goed in jou bakkie bêre," sê Johannes. "Dan vat
jy dit saam met jou Kaap toe."


Ek voel dadelik donkerte in my.


Wil ek werklik drie gewere en 'n pistool hê? Dit beteken ek sal 'n
kluis moet kry, en sê nou Pa was reg, sê nou ek word in my huis
oorval en gedwing om die kluis oop te sluit.


Dit help ook nie ek hou die gewere en ek is nie bereid om dit te
gebruik nie. Sal daar ooit 'n tyd kom dat ek iemand wil of moet
skiet?


Die res van die dag, terwyl ons die huis opruim, is daardie
gewere in my gemoed. Dalk moet ek net ontslae raak van die 308,
die haelgeweer en die pistool, besluit ek. Dan hou ek die 303.
Die 303 het immers voor Pa aan Oupa behoort, wat dit in die tuin
begrawe het toe genl. Smuts se soldate in die jare 40 oral wapens
gekonfis­keer het.


Maar sê dit nie ook iets as ek die 303 hou nie? Sê dit nie ek
klou aan die verlede vas en glo diep in my hart dit gaan eendag
weer nodig wees om soos Oupagrootjie en Oupa die wapen op te neem
nie?


Vir wie se vryheid sal 'n mens dié keer moet veg? Sluit dit
Johannes Bogotsi, wat Pa tot sy dood help oppas het, se vryheid
in?


Is jy 'n soort hensopper as jy nie jou oorlede pa se 303 wil hou
nie?


Kan 'n mens die eerste gebod in die Bybel probeer uitleef en
steeds 'n 303 besit?


Die volgende oggend, ná 'n onrustige nag, klim ek in my bakkie en
ry die dorp in. Die sypaadjies is vol papiere en leë bottels en
die dorpsplein waar die spore van mans in velskoene en osse en 'n
ossewa sedert '38 se Simboliese Ossewatrek in 'n semenstrook
bewaar lê, is toegegroei met onkruid.


By die polisiekantoor hou ek stil en klim uit.


Adjudant Smittie Smith, wat met die vuurwapenlisensies werk, sit
in sy kantoor aan die agterkant van die gebou. Ek gaan staan voor
hom.


"Kan adjudant my asseblief help?" hoor ek myself vra. "Hoe raak 'n
mens van drie gewere en 'n pistool ontslae?"



http://www.beeld.com/MyBeeld/Briewe/Dan ... k-20110415


Dana lê nie wapens neer nie, hy wis kultuur uit, maar ek het ook
deur Pieter Bester skryf
2011-04-15 23:42
Ek verwys na Dana Snyman se Deurloop "Tyd om wapen neer te lê"
(Beeld, 15 April).


Dana, ek lees gereeld jou rubrieke en stories en geniet dit, want
dit pruim so lekker.


Jou rubriek gister was egter anders, dit laat vir my 'n bitter
smaak. In 'n goeie gees wil ek krities wees oor jou stuk.


Dis veral toe jy jou pa se wapens beskryf dat dit my diep getref
het.


'n .308, goeie jaggeweer: Niks uitsonderliks, net prakties.
Perfek om mee vir die pot te skiet. Groot genoeg vir 'n koedoe en
kragtig genoeg vir 'n vlakvark.


'n Haelgeweer: Ek weet sommer dit was 'n dubbelloop. Een wat kon
knak, nie 'n uitspattige pompaksie nie.


'n Pistool: Ek stel my voor hierdie was 'n .22-kaliber. Ons ouers
het altyd gesê ek wil nie doodskiet nie, ek wil hom net twee keer
laat dink voordat hy my wil seermaak.


Die vuishou tussen die oë is egter die Erfstuk: Die Lee
Enfield-.303 is op sigself ryk aan geskiedenis en waardevol. Die
feit dat hierdie een uit ons Boereoorlog kom, is onskatbaar.


Dana, jy het nie ao. Smittie Smith gevra om van drie gewere en 'n
pistool ontslae te raak nie. Jy het 'n stuk van ons kultuur
weggemaak. Jy het nie wapens neergelê nie, Dana. Jy het die
erfenislyn uitgewis.


Ek wil nie beskuldig nie, want ek kan nie. Ek het dieselfde
gedoen. Ek dink ek wil eintlik maar net vir jou sterkte toewens.


My gewete, my siel, my eie ek kan myself net nie met rus laat
daaroor nie.


Sterkte met die rou en helingsproses. Dit vat tyd.
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Beeld

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 0 guests

cron