2011-01-18: Ál meer polisie pas net hoës op, sê instituut

http://www.beeld.co.za<br>
Kontak Beeld deur op "Kontak ons" heel onder op die webblad te kliek.

Moderators: GenMod, AfrMod

2011-01-18: Ál meer polisie pas net hoës op, sê instituut

Postby GOSA » Wed, 2011-01-19 15:25

http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/A ... t-20110118

Ál meer polisie pas net hoës op, sê instituut
2011-01-18 23:14

Jani Meyer

Die getal polisiebeamptes wat ministers, regeringsamptenare, ANC-amptenare soos mnr. Julius Malema en besoekende belangrike mense moet beskerm, het in ses jaar met 370% gestyg.

In dieselfde tyd is die getal speurders in die land met 19% verhoog en sigbare polisiëring met 32%, luidens die South
Africa Survey van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV).

Die begroting vir dié beskermingsdienste kos die polisie nou R2,2 miljard jaarliks.

Mnr. Kerwin Lebone, ’n navorser by die instituut, het gister by navraag gesê hoewel hooggeplaastes nie noodwendig bang is vir hul kiesers nie, is sommige ministers en ander hoës in die regering nie meer in voeling met Jan Alleman nie.

Hy skryf dat daar in 2003-’04 3 608 polisiebeamptes verantwoordelik was vir die beskerming van Baie Belangrike Persone (BBP’s), teenoor 15 882 in die boekjaar 2008-’09.

Die beskermingsdienste het in 2008-’09 sowat 8,7% van die polisiediens uitgemaak en die speurtak 16,8%.

Lebone het gesê die toename kan deels toegeskryf word aan die grootte van pres. Jacob Zuma se regering.

“Die skepping van nuwe departemente het veroorsaak dat meer mense opgepas moet word.”

Ander redes is die toename in internasionale gebeurtenisse en die toename van internasionale BBP’s.

Volgens Lebone word sommige munisipale raadslede ook beskerm, veral in gebiede soos Mpumalanga en Orange Farm, suid van Johannesburg, waar van hul huise en eiendomme aangeval is.

Lebone het gesê hoewel daar nie bewyse was dat lede van die regering bang is vir hul eie kiesers nie, daar wel kritiek van binne die ANC self is oor die beskerming wat ampsdraers aanvra.

Malema, ANC-jeugligaleier, se beskermingsdiens is in Oktober verlede jaar teruggetrek nadat die polisie bevind het hy is nie in gevaar nie.

Volgens Lebone is gewone provinsiale en stadsraadslede soms in meer gevaar as ander hooggeplaastes.

“Hulle werk en bly tussen hul kiesers.”
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Beeld

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 0 guests

cron