2010-12-14: "Misdaad tref rykes meer"

http://www.beeld.co.za<br>
Kontak Beeld deur op "Kontak ons" heel onder op die webblad te kliek.

Moderators: GenMod, AfrMod

2010-12-14: "Misdaad tref rykes meer"

Postby GOSA » Tue, 2010-12-14 14:30

http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/M ... r-20101213

'Misdaad tref rykes meer'
2010-12-13 23:44
Anna-Maria Lombard

Hoe ryker jy is, hoe groter is jou kanse om 'n slagoffer van misdaad te word.

Dié bevindings deur mnr. Michael O'Donovan, 'n onafhanklike misdaadontleder en statistikus, het hewige debat ontketen.

Sy teorie weerspreek die algemene aanvaarding dat arm, swart Suid-Afrikaners die swaarste dra aan die land se misdaadlas.

O'Donovan het die verhouding tussen armoede, ongelykheid en misdaad ontleed deur die jongste sensusgetalle van 2001 teenoor polisiestatistieke vir dieselfde jaar in 1 043 distrikte te meet.

Hy het sy studie by 'n kongres van die Instituut vir Sekerheidstudie voorgelê en erken die bevindings lyk nie logies nie, maar "die getalle kan nie lieg nie" en "die onus is op julle om my bevindings te weerlê/ vervals".

Sy grafieke toon dat laer gemiddelde inkomste per distrik duidelik ooreenstem met laer misdaadvlakke daar.

Armer distrikte het as 'n reël minder misdaad as ryker distrikte.

Prof. Rachel Jewkes, direkteur van die Mediese Navorsingsraad se geslag-en-gesondheidsnavorsingseenheid wat al 16 jaar lank geslagsgebaseerde geweld ondersoek, het skerp gereageer en gemaan 'n mens moet uiters versigtig wees om gevolgtrekkings uit dié soort data te maak.

Sy het daarop gewys dat dit baie moeiliker vir mense in die platteland is om toegang tot die polisie te kry om misdaad aan te meld.

Volgens Jewkes het arm mense minder waardevolle besittings en meld hulle minder misdaad aan vir versekeringsdoeleindes. Daarby is plattelanders minder geneig om misdaad aan te meld as hulle die oortreders ken.

Jewkes het gesê 'n mens kan nie uit slagofferdata gevolgtrekkings maak oor oortreders nie en dat polisiestatistieke "niks meer is as dít nie". Armoede is 'n faktor by die pleeg van misdaad, maar misdaadsyfers wys nie waar misdadigers woon nie.

Mnr. Gavin Silber, koördineerder van die koalisie vir maatskaplike geregtigheid, het saamgestem dat polisiemisdaadstatistieke "eenvoudig te onbetroubaar is om aannames te maak - dis baie misleidend en gevaarlik vir beleidsformulering".

"Howe en polisiekantore in armer gebiede is geweldig ondervoorsien en oorlaai. Hulle kom nie eers naby minder ernstige misdade nie."

Silber het gesê dat inwoners van informele nedersettings gereeld aangerand, verkrag, beroof en vermoor word bloot wanneer hulle tussen hul hutte en gemeenskaplike toilette loop. Misdaad raak almal in sulke nedersettings van naby - swak beligting en paaie stel hulle meer bloot en maak dit onmoontlik vir die polisie om die area te beskerm of op voorvalle te reageer.

O'Donovan het toegegee dat die aanmelding van misdaad gebrekkig is. Omdat niemand weet hoeveel misdaad nié aangemeld word nie, moet die syfers wat daar wel is beter verstaan word.

Volgens sensussyfers is die helfte van distrikte verstedelik en O'Donovan se ontleding wys hoë misdaadsyfers hier styg soos wat inkomstevlakke styg.

Die syfers wys dat ekonomiese ongelykhede in dieselfde distrik nie die misdaadkoers raak nie, maar misdaad styg wel hoe groter die inkomstegaping tussen 'n gebied se rykste en sy armste buurdistrik is.

Suid-Afrika word geken aan sy geweldig ongelyke buurdistrikte en daarom het die land 'n hoë misdaadsyfer, het O'Donovan gesê.

Hy het laer misdaadvlakke in landelike gebiede ook verduidelik aan die hand van gemeenskapswaardes of "sosiale kapitaal" wat individuele gedrag beteuel.

Apartheid het "sosiale kapitaal" vernietig wat gedrag sou kon inperk en ekonomiese verskille tussen naburige gebiede is oor die algemeen so groot dat die sosiale kapitaal van een area geen waarde in aangrensende woonbuurte het nie. Stedelinge kan doen wat hulle wil en dit lei tot hoër misdaadvlakke.

Mnr. Richard Aitken, direkteur van die Phoenix Zululand Restorative Justice Program naby Eshowe, wat die afgelope agt jaar onder meer as 8?000 gevangenes en hul families gewerk het, het O'Donovan gesteun.

"Jy sien in die gevangenis dat wanneer mense nie deel het aan sosiale rituele en godsdienstige gebruike tuis nie, wanneer hulle mylpale en begrafnisse mis, pleeg sulke ontredderde mense weer en weer misdaad, al weet hulle al hoe sleg dit in die tronk is. Sosiale kapitaal is deurslaggewend," het Aitken gesê.
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Beeld

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 0 guests

cron