2011-04-17: Polisielid skiet 3 kinders, vrou

Quis Custodiet Ipsos Custodes?

2011-04-17: Polisielid skiet 3 kinders, vrou

Postby GOSA » Mon, 2011-04-18 14:50

http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/P ... u-20110417

Polisielid skiet 3 kinders, vrou
2011-04-17 21:51

Pieter Steyn

Bloemfontein. – ’n Polisiebeampte van Heidedal, wie se “oë soos ’n wilde slang s’n” gelyk en wat glo sy vrou meer as ’n week gelede met sy dienspistool gedreig het, het byna ’n hele gesin en homself met dié dienspistool doodgeskiet.

Ao. Daniël Olifant (40) het Vrydag omstreeks middernag sy minnares, me. Shirley Scharneck (39), haar seun, Zwelinzima Linda (5), en haar dogter, Zanele Linda (9), doodgeskiet en daarna homself in die kop geskiet.

Olifant het Thamsanqa (Thami) Linda (13) ook in die kop geskiet, maar sy is in die Rosepark-hospitaal se hoësorgeenheid.

Al drie die kinders het voor die TV geslaap toe hy hulle geskiet het.

Beeld het betroubaar verneem Olifant het voorverlede Donderdag sy vrou by sy huis in Bloemside met sy dienspistool gedreig.

Toe sy die polisie bel, het hy aan sy kollegas gesê as hulle kom, moet hulle sommer met die lykswa kom.

Volgens past. Henry Scharneck, Shirley se pa, het hy Vrydag omstreeks 23:00 ’n oproep van sy dogter gekry.

Sy het gesê “hier is probleme”.

“Ek het deur die agterdeur met hulle gepraat. Hy (Olifant) wou nie die veiligheidshek vir my oopsluit nie. Sy oë was soos ’n wilde slang s’n.”

Scharneck het gesê hy het herhaaldelik vir Olifant gevra waaroor die stryery gaan, maar Olifant wou nie antwoord nie.

“Hy het sy dienspistool uitgehaal, dit oorgehaal en op my gerig. Ek sê toe weer vir hom ons ken hom nie so nie.

Hy het toe die pistool laat sak.”

Volgens Scharneck het twee polisiebeamptes by die huis opgedaag.

Olifant het hulle weggejaag en gedreig om hulle ook te skiet.

Die beamptes het versterkings en ’n onderhandelaar ontbied.

Een polisiebeampte het Olifant oor die foon “gesmeek” om uit te kom.

“Terwyl hulle vir die onderhandelaar gewag het, het daar drie skote geklap, sekondes later nog drie en toe ’n laaste skoot.”

Sharneck het gesê hy het vir die polisie gesê almal is doodgeskiet.

Olifant het al drie slapende kinders in die kop geskiet, Scharneck in die wang en rug en homself in die kop.

Me. Esmarie Cronjé, woordvoerder van Rosepark, het gesê Thami het swelling op die brein en is in ’n kritieke toestand.

Die polisie ondersoek drie klagte van moord en een van poging tot moord en sal volgens kapt. Harry Nagel, provinsiale polisiewoordvoerder, ook die beweringe ondersoek dat Olifant sy vrou vroeër met sy dienspistool gedreig het.
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to SAPS : Police Shootings, Brutality, Corruption and Incompetence

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron