2009-09-12: Geen ander bedryf só deur wet voorgeskryf

http://www.rapport.co.za

2009-09-12: Geen ander bedryf só deur wet voorgeskryf

Postby GOSA » Thu, 2009-11-19 15:21

2009-09-12 14:16
Llewellyn Prince

Beroepsjagters regoor Suid-Afrika sleep nou die polisie hof toe om dié
multimiljoenrand-bedryf van " 'n gewisse ondergang te red" weens die
omstrede nuwe vuurwapenbeheerwet.

Die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa), wat met 1 100
lede die meerderheid professionele jagters en jagondernemers verteenwoordig,
sê hy bevind hom in 'n onhoudbare posisie.

Die jagbedryf is R750 miljoen per jaar werd en verskaf werk aan sowat 70 000
mense in landelike dele van Suid-Afrika.

Rapport verneem die huidige wetgewing skaad Suid-Afrika se beeld as 'n
toeriste-vriendelike jagbestemming so erg dat baie oorsese jagters nou
eerder hul visiere op Namibië rig.

Mnr. Eduard Katzke, inkomende president (2010) en lid van Phasa se
uitvoerende komitee, sê geen ander bedryf in Suid-Afrika word wetlik
voorgeskryf hoeveel instrumente hy mag besit om sy werk te doen nie.

Phasa se optrede kom nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof verlede week opdrag
gegee het dat die polisie riglyne moet opstel vir die vergoeding van mense
wat hul vuurwapens ingee.

Katzke sê Phasa ondervind dieselfde en meer spesifieke probleme met die Wet
op die Beheer van Vuurwapens (WBV), wat sy lede - en inderdaad alle
professionele jagters - se grondwetlike reg om aan handelsverkeer deel te
neem, direk raak.

Volgens hom lok die jagbedryf jaarliks bykans 7 000 besoekers na
Suid-Afrika. Phasa-lede is volgens Katzke ook aan etiese jagpraktyke en
-reëls onderworpe.

"Geen professionele jagter of jagondernemer kan sy gekose beroep beoefen
sonder 'n reeks betroubare en geskikte jaggewere en haelgewere nie, maar
nogtans maak die WBV geen voorsiening vir 'n professionele jagter en
jagondernemer om wettig vuurwapens vir daardie doel te bekom nie.

"Die professionele jagter en jagondernemer is inderwaarheid in dieselfde
posisie as die persoon wat een of twee maal per jaar vir die pot gaan jag en
net vier vuurwapens mag besit."

Die vorige wet het jagters toegelaat om 12 gewere te besit.
Mnr. Rudolf van der Westhuyzen, Phasa se regsverteenwoordiger, sê die
organisasie en die polisie se sentrale vuurwapenbeheerregister onderhandel
al sedert 2006 oor die kwessie.

Dié het Phasa verseker 'n gewysigde konsepwet is reeds gefinaliseer, maar
die status quo geld tans steeds.

Van der Westhuyzen sê dít het Phasa gedwing om as party toe te tree in die
hofaansoek wat die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging
onlangs teen die wetgewing in die hooggeregshof in Pretoria ingedien het.
Phasa-lede moes ook voor 30 Junie vanjaar van oortollige vuurwapens ontslae
raak, terwyl sommige sedert 2005 vir herlisensiëring wag.

Intussen sê mnr. Hangweani Malaudzi, woordvoerder van mnr. Nathi Mthethwa,
minister van polisie, dat Mthethwa glo Suid-Afrika sal veiliger wees met
minder vuurwapens.
"Ons sal enige hofbevel
nakom. In die demokratiese Suid-Afrika het enigeen,
insluitend die minister, egter die reg om 'n beslissing in 'n hof te toets."

- Rapport
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Rapport

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron