2005-10-30 : Lui wapeneienaars se tyd is mín

http://www.rapport.co.za

2005-10-30 : Lui wapeneienaars se tyd is mín

Postby GOSA » Wed, 2009-04-15 11:18

RAPPORT, 30 OKTOBER 2005
JOHANNESBURG FINAAL

Lui wapeneienaars se tyd is mín

LIZEL STEENKAMP Johannesburg

Meer as 'n halfmiljoen vuurwapeneienaars wat nog nie 'n lit verroer
het om hul wapenlisensies te hernieu nie, gaan ná 31 Desember in
hegtenis geneem en vervolg word weens die onwettige besit van 'n
vuurwapen en kan uiteindelik onbevoeg verklaar word om ooit weer 'n
wapen te besit.


Die polisie en die departement van veiligheid en sekuriteit het dit
die afgelope week onomwonde gestel dat diegene wat hulle nie aan die
nuwe Wet op die Beheer van Vuurwapens steur nie deur tot vyftien jaar
tronkstraf en boetes in die gesig gestaar word.


Ander rolspelers het gewaarsku dat streng optrede teen mense wat die
wet verontagsaam, kan lei tot "grootskaalse ontwapening" omdat die
polisie op die "oortreders" se wapens moet beslag lê om dit as
bewysstukke by die hof in te dien.


Dir. Jaco Bothma, hoof van die sentrale vuurwapenregister in Pretoria,
het aan Rapport gesê die vuurwapeneienaars wat tussen 1 Januarie en 31
Maart verjaar en nie vóór volgende jaar aansoek doen om hul lisensies
te hernieu nie, gaan ingevolge die nuwe wet aangekla word.


"Ons gaan nie speel nie. 'n Saakdossier vir die onwettige besit van 'n
vuurwapen sal teen elkeen aangelê en ondersoek word. Ons sal ook die
wapens moet vat om as bewysstukke by die hof in te dien," het Bothma
gewaarsku. As jy skuldig bevind word aan die onwettige besit van 'n
vuurwapen, kan 'n hof jou onbevoeg verklaar om ooit weer 'n wapen te
besit.


Volgens Bothma is daar selfs die moontlikheid dat spesiale howe
gebruik gaan word om dié mense te verhoor. "Dit sal afhang van hoeveel
vuurwapeneienaars teen 1 Januarie nie hul lisensies hernieu het nie."


Mnr. Trevor Bloem, woordvoerder van die minister van veiligheid en
sekuriteit, sê vuurwapeneienaars moenie hoop op uitstel nie. "Daar is
geen moontlikheid vir só iets nie. Diegene wat voor 1 Januarie moet
aansoek doen om hernuwing en dit nie doen nie, is onwettig in die
besit van 'n wapen. Jy is strafregtelik verantwoordbaar en ek kan nie
sien hoekom jy nie in hegtenis geneem sal word nie. Dit is 'n ernstige
saak: oortreders kan vyftien jaar tronkstraf kry."


Volgens dir. Phuti Setati, nasionale polisiewoordvoerder, het
vuurwapenregistrasiekantore dwarsoor die land nog net 32 000 aansoeke
om hernuwings ontvang.


Die sentrale vuurwapenregister het verlede jaar aan die
portefeuljekomitee oor veiligheid en sekuriteit gesê daar is sowat 2,5
miljoen mense wat altesame 3,6 miljoen wapens besit. Dit beteken 'n
gemiddelde van 625 000 mense moet elke jaar 900 000 lisensies laat
hernieu.


Rapport het van 'n betroubare bron verneem net in Gauteng is 480 000
wapenlisensies waarvoor nog geen aansoeke om hernuwings ontvang is
nie.


Wapeneienaars moet 'n voorgeskrewe toets oor hul kennis van die nuwe
wet by 'n geakkrediteerde opleidingsinstansie slaag om 'n
vaardigheidsertifikaat te bekom. Dié sertifikaat moet by die naaste
vuurwapenregistrasiekantoor ingelewer word wanneer jy om 'n
bevoegdheidsertifikaat aansoek doen. Geen lisensie kan sonder dié twee
sertifikate hernieu word nie.


Agri SA, by wie 30 000 kommersiële boere en nog 'n paar duisend
kleinboere ingelyf is, het gesê daar is kommer oor die klaarblyklike
traagheid van vuurwapeneienaars.


"Dit is 'n langsame proses en diegene wat eers tot Desember wag om
aansoek te doen, gaan moeilikheid kry ," sê mnr. Kobus Visser,
direkteur van korporatiewe skakeling.


Polisiebeamptes wat by die 315 vuurwapenregistrasiekantore in die land
werk, is al in Maart in kennis gestel dat niemand in Desember op
verlof kan gaan nie.


'n Bevelvoerder van een van dié kantore het aan Rapport gesê hulle het
slapelose nagte. "Ons raak besiger by die dag, maar ons gaan nie die
mas opkom nie. Ons het te min mense om kluise na te gaan en onderhoude
te voer."


. Diegene wat inligting benodig oor waar hul naaste
vuurwapenopleidingsinstansie is, kan Network 306 bel by 0861-306-306.
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Rapport

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron