2008-08-08 : Kommentaar : 'n Golf van dissidente

http://www.dieburger.com <br>dbmening@dieburger.com

Moderators: GenMod, AfrMod

2008-08-08 : Kommentaar : 'n Golf van dissidente

Postby GOSA » Wed, 2008-10-22 10:38

http://www.dieburger.com/Stories/Opinio ... 94919.aspx


KOMMENTAAR, 8 Augustus: 'n Golf van dissidente is wat die land nodig het
07/08/2008 07:20:38 PM - (SA)


Die dood van die Russiese intellektuele reus Aleksander Solzjenitsin
vandeesweek laat sy land ­ en die mensdom ­ sonder twyfel aansienlik armer
agter. Met sy publikasies, waarin hy die uitwasse van die totalitêre
kommunisme genadeloos aan die kaak gestel het, het hy ontwikkel tot 'n
gewete vir Rusland, 'n gewete wat ook vir die moderne staat van Wladimir
Poetin ongemaklike waarhede verkondig het.


Solzjenitsin kon nooit in 'n maklike kategorie ingedeel word nie. Al het hy
'n soort romantiese 18de- of 19de-eeuse outoritêre Russiese nasionalisme
verkondig, kan hy nie summier as links, regs, dit of dat afgemaak word nie.


Soos daar van Hermann Giliomee gesê word: Solzjenitsin was nie links of
regs nie; hy was bo­wen­al dwárs.


Liberale demokrate sal ongemaklik voel by die outoritêre alternatief wat
Solzjenitsin vir die kommunistiese diktatuur in gedagte gehad het, al het
hy sekere foute van die liberale demokrasie soos dit in die Weste bestaan,
akkuraat uitgelig. Nee, sy waarde lê eerder op die terrein van
andersdenkendheid.


Enige beskawing, enige kultuur het debat nodig. Die oomblik as mense wéét
hulle het die waarheid beet, begin dinge verkeerd loop.


Dit was juis die probleem met die kommunisme. In navolging van Karl Marx en
Wladimir Lenin het die belydende kommuniste gemeen hulle het die
onveranderlike natuurwette wat kollektiewe menslike gedrag verklaar,
ontdek. En aangesien húlle die alleenreg op die waarheid had (en bowendien
die belange van die armes en verdruktes wou dien), het hulle ook die reg
gehad om andersdenkendes met geweld tot orde te roep.


Presies dieselfde het gegeld vir Adolf Hitler en die Nazi's in Duitsland.
En ons eie Afrikanernasionaliste het so van die jare dertig tot min of meer
sewentig 'n behoorlike ent op dié pad geloop, al het hulle gelukkig nooit
die eindbestemming bereik nie.


Afrikanerdissidente soos André Hugo, Beyers Naudé, Ben Marais, Bennie Keet,
Nic Olivier en andere het dit in die jare vyftig tot sewentig hotagter in
die Afrikaner-establishment gekry. Kollektief het die Afrikaners rustig
geslaap in die gerieflike maar gevaarlike illusie dat dr. Hendrik Verwoerd
of ander leiers die antwoorde gevind het, dat hulle nie self verder oor die
vraagstukke van die lewe hoef na te dink nie ­ en dat die "lastige"
andersdenkendes sommer net moedswillig is en dus gerus maar 'n nag of twee
in die tronk mag gaan slaap.


Eers in die vroeë negentigerjare sou die Afrikaners agterkom dat
andersdenkendheid soos water is: Sonder water, geen lewe. Sonder
andersdenkendheid en debat, geen lewe; slegs versteendheid en die
intellektuele dood.


Die probleem is dat die Afrikaners as geheel daardie les klaarblyklik nog
nie heeltemal geleer het nie. Dit is dikwels die dissidente van gister ­
Johan Degenaar, Hermann Giliomee, Van Zyl Slabbert en andere ­ wat ook die
dissidente van vandag is, wat die verkrampte politieke korrektheid van
Stellenbosch en elders aan die kaak stel, en sommige regeringsgetroues van
gister wat hulle steeds knus in die anti-andersdenkende warmte van die ANC
nestel.


Inderdaad, van die ANC hoef 'n mens in dié opsig nie veel te verwag nie.
Dié party is tans besig met 'n veel erger aanslag op die liberale
demokrasie as waarvan die ortodokse Afrikanernasionalistiese establishment
ooit kon droom.


Afgesien van opswepende taal soos dat mense sogenaamd vir mnr. Jacob Zuma
sal moor, word daar tans 'n naarstige poging aangewend om te keer dat hy
hoegenaamd in die hof verskyn vir sy beweerde korrupsie. Dit is 'n ernstige
ondermyning van die regstaat.


En wat dan van die ANC se sekretaris-generaal, mnr. Gwede Mantashe, se
venynige aanval op die konstitusionele hof as synde "teenrevolusionêr"? Of
die ANC se pogings om persvryheid te muilband? Soos prof. Amanda Gouws dit
gister in dié ruimte gestel het: Suid-Afrikaners kan gerus baie bang vir
die ANC wees.


Wat nodig is, is 'n massale golf van dissidente wat dit duidelik stel: Soos
Solzjenitsin, is ons nie regs of links nie, maar bowenal dwárs!
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Die Burger

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron