2008-07-14 : Die rotte : Andre P. Brink

http://www.dieburger.com <br>dbmening@dieburger.com

Moderators: GenMod, AfrMod

2008-07-14 : Die rotte : Andre P. Brink

Postby GOSA » Tue, 2008-10-21 13:38

Die rotte
ANDRE P. BRINK
14/07/2008 10:32:12 AM - (SA)


DIS net voor drie-uur die môre dat sy vrou hom wakker maak. Daar's iemand
in die huis, sê sy suutjies.


Ag nee wat, sê hy deur die slaap. Dit moet 'n muis wees.


Dis g'n muis nie, hou sy vol. Dis baie groter.


Dan is dit 'n rot, brom hy.


En toe skiet die rot hom in die gesig. Hy sterf in die teenwoordigheid van
sy vrou en hul tienjarige dogtertjie. Daarna word hulle gedwing om die
indringers van kamer tot kamer te vergesel op soek na buit; die lyk bly net
daar lê.


Hy is ­ was ­ die oudste seun van my sus Elbie, by die publiek beter bekend
as die skryfster Elsabe Steenberg. Hy was een van die saggeaardste mense
wat ek ooit geken het. Sou nie 'n vlieg kwaad aandoen nie. Ook nie 'n rot
nie. Hulle het op 'n hoewe net noord van Pretoria gewoon ­ of Tshwane dan,
soos dit heet sedert die ANC besluit het dat net hul geskiedenis, werklik
of versin, in dié land ter sake is. Seker te verwagte ná al die jare dat
net Afrikaners se weergawe van die verlede in ag geneem is.


(Niemand by sy volle positiewe sal wil sien dat rasgekleurde, beledigende,
benepe benamings uit die verlede behoue bly nie, maar deesdae se beheptheid
met naamsverandering, dikwels getuie van historiese bysiendheid of
paranoia, word 'n belediging vir presies die ingesteldheid wat
naamsverandering in die eerste plaas nodig gemaak het.)


Hulle het tot onlangs 'n vreedsame lewe gelei. Toe vind daar binne een
maand sestien gewapende aanvalle op hoewes binne minder as 'n kilometer van
die jong gesin se huis af plaas. Elbie se seun, Adri, was die sewentiende.


Voor die einde van daardie naweek is nog 'n man in dieselfde straat
vermoor. Vermoedelik het die polisie toe vaagweg begin agterkom iets is nie
pluis nie. Binne dae ná die agtiende moord is 'n bende van ses opgespoor en
die goed wat uit Adri se huis gesteel is (twee selfone en 'n laptop: die
lewe is nie deesdae baie duur nie), word in hul besit gevind.


Ongelukkig het die polisie kort daarna, so wil dit voorkom, die getuienis
verlê of verloor, insluitende al die vingerafdrukke wat by hul ondersoek
gevind is. Miskien sukkel hul mense maar in die afwesigheid van hul
gevierde hoof, Jackie Selebi, terwyl hy self wag op verhoor op aanklagte
van korrupsie, en so meer. Gevolglik is die verdagtes weer vrygelaat en nog
'n onafgehandelde lêer is gepak op die Everest van misdaadstatistieke in
die land.


ONS het darem die versekering van onse bekwame minister van veiligheid en
sekuriteit, sy edele Charles Ngqakula, dat daar deesdae minder misdade,
verkragtings en gewapende roofaanvalle gepleeg word as 'n jaar gelede (nou
net 'n skamele 11,5 moorde per dag, net 16 verkragtings en sogenaamde
onsedelike aanrandings per dag, en net 'n stuk of 40 inbrake).


Hy mag selfs 'n nuwe ronde samesprekings reël om die situasie te bespreek,
of selfs 'n debat in die parlement. Die probleem is net dat nie baie agbare
parlementslede plek in hul druk programme sal kan inruim om so 'n sessie by
te woon nie. Te veel ander dringende besigheid: Nog 'n reis na Dubai om die
voorraad fynkos, skoene en juweliersware aan te vul; 'n afspraak met die
bank om nog 'n miljoen of halfmiljoen omkoopgeld in te betaal; 'n draai by
die reisagent vir 'n nuwe klompie kaartjies vir die familie noudat die
verspotte idee om parlementariërs daarvoor aan te skryf laat vaar is; 'n
vinnige besoek aan Harare om oom Bob geluk te wens met al die krisisse wat
weer afgeweer is; dalk selfs 'n vinnige draai by die tronk om solidariteit
te gaan betoon met die een of ander hoë amptenaar wat besig is om sy paar
weke van 'n lang vonnis in ondraaglike weelde uit te dien, bygestaan deur
manikuriste en pedikuriste en masseuses.


Voeg hierby nog die onverkwiklike skouspel waardeur ons hele regstelsel in
'n onhoudbare swak lig gestel is; die president se voortdurende onwil of
onvermoë om iets sinvols in verband met Zimbabwe te begin doen of werklik
op 'n beduidende manier die vigskrisis te hanteer; die manier waarop "jong"
leiers soos Vavi en Malema in hul blinde en doofstomme verering van Jacob
Zuma die wildste openbare dreigemente rondslinger en agterna beweer dat
wanneer húlle die woord "moor" gebruik, dit omtrent enigiets behálwe "moor"
beteken; en die naweë van die wapenskandaal wat nou al 'n paar jaar lank
soos 'n onwelriekende wolk oor die hele land hang en waarop die regering
klaarblyklik nie kan bekostig om enige lig te werp nie.


'n Mens wil nie te kenne gee dat álles in Suid-Afrika vandag net donkerte
en duisternis is nie. Dit was onvermydelik dat die euforie ná die eerste
vrye verkiesings in 1994 verdamp het en vervang is deur groter realisme.


Selfs te midde van vandag se ellendige situasie kan 'n mens dit tog
bekostig om 'n treetjie tru te staan en ons huidige omstandighede te
vergelyk met dié van 'n skamele 14 jaar gelede ­ en wat is 14 jaar werklik
in 'n volk se geskiedenis? Ons het tóg 'n verstommende stuk pad afgelê. En
net die troglodiete van die apartheidsera sou dit wou oorweeg om vandag se
land te verruil vir die een van 'n blote twee dekades gelede. Maar dit wil
nog nie sê dat ons al êrens "uitgekom" het nie. Op sy beste is ons steeds
"op pad" ­ en niemand is meer mooi seker van waar ons nog gaan beland nie.


Tog kan die blote onsekerheid van so 'n situasie op sy eie manier ook
uitdagend en stimulerend wees: En dit is tekenend van dié situasie dat waar
Suid-Afrikaners in die verlede graag gepraat het van "probleme" daar vandag
steeds 'n neiging is om eerder na "uitdagings" te verwys.


Aan die positiewe kant bly daar die enkele merkwaardige mense wat ons land
van alle ander onderskei ­ bowenal Mandela, en ook Tutu. Mense wat bewys
dat as die spesie van homo sapiens in staat is tot die ergste, dit ook die
beste verpersoonlik waartoe die mens in staat is. Nie dat dit altyd maklik
is om dit voor oë te hou nie.


EN teen die algemene donker agtergrond, en in die naweë van die moord op
Adri, was daar 'n verbasende aantal mense, sowel vriende as
wildvreemdelinge, wat wou weet of ek nou sou oorweeg om die land te
verlaat. Baie van hulle woon reeds op verskillende vlakke van gerief en
gemak in Australië, Nieu-Seeland, Kanada of Brittanje, en hulle lyk verbaas
as ek sê dat ek van plan is om te bly waar ek is.


"Maar jy kan dit tog seker bekostig?" vra hulle. En as dit net 'n kwessie
van geld was, sou ek dit ­ veral as ek 40 of 50 jaar jonger was, met my
loopbaan nog voor my en met klein kindertjies in die huis ­ dalk nog
oorweeg het. Ek blameer ook niemand wat reeds die land verlaat het of wat
oorweeg om dit te doen nie. Dit is 'n besluit wat elke mens net vir haar-
of homself kan neem.


Maar dis nie vir my nie, dankie. Ek weet 'n mens kan nooit "Nooit" sê nie.
Maar dit sal nie maklik gaan om my van plan te laat verander nie.


Daar was 'n tyd, ná die politieke oorgangsmoment in 1994, toe ek sou
geredeneer het dat ek ná 'n halfeeu van apartheid genoeg vertroue in die
ANC gehad het om hier te wíl bly en deel te wees van 'n merkwaardige
historiese oorgang na 'n tydvak van vryheid en geregtigheid. Maar die
kortsigtigheid en gulsigheid en arrogansie van ons nuwe heersers ­ en
"heersers" is hulle, met enkele treffende uitsonderings, beslis ­ het my
geloof laat verkrummel in die spesifieke soort toekoms waarin ek so vas
geglo het en waarvoor ek bereid was om my eie prys te betaal.


Vandag kan ek in alle eerlikheid nie enige werklike afname in die misdaad
en geweld voorsien nie; ek twyfel sterk daaraan of ons owerheid die
veiligheid van 'n geslaagde Wêreldbeker in 2010 kan waarborg; ek glo nie
dat die vlakke van korrupsie en nepotisme en rampokkery en onbekwaamheid en
onregverdigheid en onaanvaarbare vorme van "regstellende aksie" in die
nabye toekoms gaan afneem nie. Die heerskappy van die rotte lyk onaantasbaar.


En tog het ek besluit om te bly.


Dit is nie dat ek meen ek of my familie verdien enige waarborge of dat ons
op so iets kan of wil aanspraak nie. Oor die byna 400 jaar wat ons nou al
in Suid-Afrika gevestig is, was ons nog altyd teen wil en dank, selfs ten
spyte van armoede en swaarkry soms, danksy die kleur van ons vel deel van
die "bevoorregtes". Daar was slawe-eienaars onder hulle, nie slawe nie.


By minstens een geleentheid het 'n voorvader verskeie kinders by 'n slavin
gehad, en hulle toe gewetenloos verkoop. (Ook in ons eie geledere was daar
rotte van verskillende soorte.) Nee, op spesiale behandeling kan ons nie
aanspraak maak nie.


Maar ons was nog altyd hier. In Rilke se ontroerende woorde: O, nie omdat
geluk bestaan nie . . . / maar omdat hierwees véél beteken, en omdat alles
wat hier is/ ons skynbaar nodig het, alles wat vervlietend is, en ons
sonderling aangaan . . .


Wat beteken dit eintlik om hier te wees, om hier te gewees het?


Tog seker dít: dat ek met alle ander, swart en bruin en wit, hierdie stuk
aarde deel waar my ma en my pa begrawe is, en my oupas en oumas, en hulle
voorouers, deur generasies en generasies. Dit beteken dat ons deur byna
vier eeue op hierdie vasteland in hierdie lewe opgeneem is, en dat daardie
eeue op hul beurt in óns opgeneem is, in ons bene en ons bloed: die ritmes
van droogte en oorstroming, van oorvloed en hongersnood, al die onmenslike
moord en ontberinge, die lag en liefhê en genade en gulhartigheid. Dit
alles het 'n prys gekos, en ons het dit betaal, soms teësinnig en vol wrok,
dikwels gewillig en met vreugde.


Ons was hier, nêrens anders nie; en hier wóú ons wees. Dit traak ons, en ek
glo dat bloot deur hier te wees en hier te bly, ek ook iets het om in ruil
aan te bied. Ek weet maar alte goed dat ek nie onmisbaar is nie: maar ek
kán hier wees en deur hier te bly kan ek bevestig dat dit iets beteken:
deel van 'n diep sin wat net in en deur ons saambestaan hier kan gestalte
kry. Dit is immers die sleutelwoord wat hierdie land se mense saambind:
umntu ngumntu ngabantu: 'n mens is 'n mens deur ander mense.


Daar is geen samelewing op aarde sonder uitdagings of probleme of gevare
nie. Maar in Suid-Afrika het die lewe 'n dringendheid en 'n onmiddellikheid
wat daaraan 'n gevoel van betrokkenheid en betekenis verleen wat ek my nie
maklik êrens anders op aarde kan voorstel nie, en wat dit vir my belangrik
en nodig maak om hier te wil skryf en lewe. Al wat werklik die moeite werd
is, het Goethe gesê, is dit waarvoor jy elke dag moet veg.


)))


EK sê dié dinge nie in 'n poging om redes vir my keuse te probeer formuleer
nie. 'n Liefde wat verduidelik kan word, is nie liefde nie. Maar die feit
dat dit nie logies verduidelik kan word nie, maak dit nie minder geldig
nie. Dit is so waar as die samestelling van my DNS.


Nie die boelietaktiek óf die geflikflooi van die huidige regime kan 'n
keuse aan my opdwing nie. Dit is mý keuse, en ek oefen dit uit vrye wil uit.


Dit is nie maar net 'n kwessie van hier te "hoort" nie: Dit is eerder 'n
betrokkenheid en 'n opneem van verantwoordelikheid. Vir myself, vir my
kinders en kleinkinders, vir my vriende, vir die vroue en mans en kinders
wat ek liefhet en sonder wie ek nie ék kan wees nie.
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Die Burger

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 2 guests

cron