2008-06-19 : 'Polisiekultuur' dra by tot self-, gesinsmoord

http://www.dieburger.com <br>dbmening@dieburger.com

Moderators: GenMod, AfrMod

2008-06-19 : 'Polisiekultuur' dra by tot self-, gesinsmoord

Postby GOSA » Wed, 2008-07-16 14:29

http://www.dieburger.com/Stories/News/1 ... 43395.aspx


'Polisiekultuur' dra by tot self-, gesinsmoord
LLEWELLYN PRINCE
19/06/2008 09:16:08 PM - (SA)


KAAPSTAD. ­ Die polisie­kultuur dra volgens 'n kenner daartoe by dat daar
in dié beroep meer self- en gesinsmoorde voorkom as in enige ander beroep
in Suid-Afrika.


Selfmoord deur polisie­beamptes in die Wes-Kaap het vandeesweek weer onder
die soeklig gekom toe reservis-sers. Samuel Teheben (37), van Kuilsrivier,
homself Maandagaand om die lewe gebring het nadat hy sy meisie, me. Edwina
Titus (30), ná 'n stryery geskiet het.


Titus het ook later aan haar wonde beswyk. Teheben was agt jaar lank 'n
polisiereservis.


Intussen sê die Wes-Kaapse polisie daar was net in die huidige boekjaar al
sewe soortgelyke voorvalle onder sy personeel, ten spyte daarvan dat
polisielede daarvan bewus is dat ondersteuningsdienste 24 uur per dag
beskikbaar is.


Dr. Jean Steyn, 'n kliniese sielkundige en navorser wat vroeër as
sielkundige in die polisiediens gewerk het, het gister gesê daar is
verskeie redes waarom polisielede self- of gesinsmoord pleeg.


"Die polisieberoep is uniek in dié sin dat polisielede die mag en gesag het
om mense in hegtenis te neem as daar konflik is. Hulle ervaar dus
addi­sionele spanning en druk bo en behalwe dít wat hulle as gewone lede
van die publiek ervaar."


Volgens Steyn ly baie polisiebeamptes ook aan posttraumatiese stres en angs
weens grusame misdaadtonele en kan hulle, "weens die cowboys don't
cry-houding in die polisiediens nie oor hul probleme gaan kla nie".


"Baie kla ook nooit nie omdat hulle glo dié klagtes kan later teen hulle
gebruik word. Voorts kan ander faktore, soos finansiële druk en
familiespanning, ook self- en gesinsmoorde beïnvloed."


Volgens Steyn word polisielede deur al dié faktore gedruk tot op 'n punt
waar hulle dit nie meer kan verdra nie. "Individue verskil egter van mekaar
en die ergste is dat 'n mens nooit kan voorspel watter persoon dit sal doen
nie."


Sr.supt. Billy Jones, 'n polisiewoordvoerder, het bevestig dat sewe
geregtelike doodsondersoeke weens selfmoord, benewens dié van Teheben,
vanjaar in die polisiediens opgeteken is.


"Alle polisiebeamptes, reserviste inkluis, het toegang tot die polisie se
ondersteuningsdienste waarmee sielkundige, maatskaplike en geestelike hulp
verskaf word aan dié wat dit benodig." Volgens Jones kan beamptes ook hul
onmiddellike bevelvoerder nader as hulle hulp benodig.


In ander voorvalle waaroor vroeër berig is, het konst. Butityi Isaac Mala
(40), van die BBP-beskermingseenheid, homself in Augustus verlede jaar
doodgeskiet nadat hy sy vrou by die hotel Capetonian vermoor het.


Insp. Bennie Paulse (43), van Beaufort-Wes, het in Mei verlede jaar sy
vriendin en toe homself in 'n polisievoertuig doodgeskiet.


Konst. Denzel Owies (29), van Kuilsrivier, het in Maart verlede jaar sy
seun van 18 maande doodgeskiet voordat hy selfmoord gepleeg het.


In Februarie verlede jaar het konst. Carl Scharnick (27), van die
Paarl-Oos, eers sy skoonpa en vrou doodgeskiet en toe sy skoonma gewond
voordat hy homself doodgeskiet het.
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Die Burger

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron