2008-04-25 : Misdaadsyfer is die hoogste in Wes-Kaap

http://www.dieburger.com <br>dbmening@dieburger.com

Moderators: GenMod, AfrMod

2008-04-25 : Misdaadsyfer is die hoogste in Wes-Kaap

Postby GOSA » Fri, 2008-05-16 11:47

http://www.dieburger.com/Stories/News/1 ... 46869.aspx


Misdaadsyfer is die hoogste in Wes-Kaap
ABIGAIL ISAACS
25/04/2008 08:19:56 AM - (SA)


JOHANNESBURG. ­ Al kom gewapende rooftogte meer in Gauteng voor as elders
in die land, is dit nié die provinsie met die hoogste misdaadsyfer nie.


In die Wes-Kaap kom die meeste moorde en huisbrake voor en daarom het dié
provinsie, hoewel sy inwoners oor die algemeen die gesondste en rykste in
die land is, die hoogste misdaadsyfer.


Dié bevinding is gister deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir
Rasseverhoudinge (SAIRV) bekend gemaak as deel van sy verslag oor die
toestand van die nege provinsies.


Volgens me. Gail Eddy, SAIRV-navorser, het inwoners van Limpopo die
kleinste kans om vermoor te word, met 14,1 mense uit elke 100 000 wat
vermoor word. In die Wes-Kaap en Gauteng is dié syfer onderskeidelik 60,7
en 39,8. (Die getalle slaan op die nuutste beskikbare syfers vir 'n tydperk
van 12 maande.)


Daar is by die huis van altesaam 909 uit elke 100 000 inwoners van die
Wes-Kaap ingebreek, vergeleke met Gauteng se 707 en Limpopo se 227.


Mpumalanga is die provinsie waar die meeste verkragtings aangemeld is ­ 121
vroue uit elke 100 000 is hier verkrag.


Gewapende rooftogte raak 574,6 Gautengse inwoners uit elke 100 000. In die
Wes-Kaap kom dié geweldsmisdaad minder voor, met ongeveer 321 slagoffers
uit elke 100 000 inwoners.


Eddy het gesê sulke rooftogte is baie opspraakwekkender omdat lewens
bedreig word. "Dit dra dus by tot die wanpersepsie dat daar meer misdaad in
Gauteng voorkom as elders."


Sy het ook bygevoeg dat misdaadsyfers sedert 1994 gedaal het. "Die enigste
misdaad wat in dié tyd toegeneem het, is gewapende roof, wat mense laat
dink dat die misdaadsituasie handuit ruk."


Vir haar is dit opvallend dat Limpopo die veiligste provinsie is, terwyl
dit die grootste getal mense (567) per polisielid het. In die Wes-Kaap en
Gauteng is dié getal onderskeidelik 302 en 377.


Gauteng lewer die grootste bydrae tot die land se ekonomie, gevolg deur die
Wes-Kaap en KwaZulu-Natal. Huishoudelike inkomste in die Wes-Kaap (jaarliks
R135 000) is egter oor die algemeen hoër as in Gauteng (jaarliks R111 000).
In die Wes-Kaap staan die werkloosheidsyfer op 23,3% terwyl dit amper 29%
in Gauteng is.


Weens sy hoë vigssyfer het KwaZulu-Natal die hoogste sterftesyfer onder
volwassenes en kinders onder vyf. Nie minder nie as 71 volwassenes uit elke
1 000 sterf, terwyl dié getal vir kinders onder vyf 90 uit elke 1 000 is.
Die Wes-Kaap vaar in dié geval die beste uit al die provinsies.


Volgens Eddy het hulle die meeste van hul data van Statistieke Suid-Afrika
(SSA) bekom.
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Die Burger

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron