2008-04-15 : 10111: Polisie-noodlyn nie na behore beman

http://www.dieburger.com <br>dbmening@dieburger.com

Moderators: GenMod, AfrMod

2008-04-15 : 10111: Polisie-noodlyn nie na behore beman

Postby GOSA » Fri, 2008-05-16 11:16

http://www.dieburger.com/Stories/News/1 ... 42213.aspx


10111: Polisie-noodlyn nie na behore beman
AMY JOHNSON
15/04/2008 10:25:03 AM - (SA)


KAAPSTAD. ­ 'n Personeeltekort by die 10111-dienssentrum veroorsaak dat die
personeel wat wél daar is, nie betyds op noodoproepe kan reageer nie.


Mense wat nie behoorlik opgelei is nie en personeel wat op siekteverlof is
weens stres, dra by tot die probleem, het personeel by die dienssentrum in
Pinelands gister gesê.


Dié sentrum bedien die hele Kaapse metropool, Atlantis, Mamre, Malmesbury,
Wellington, die Paarl én Worcester.


Studentekonstabels uit ander provinsies wat nie vertroud is met die gebied
waar hulle werk nie, vertraag ook die reaksietyd.


'n Beampte wat anoniem wil bly, het gesê personeel sukkel om die mas op te
kom en taalverskille vererger net die probleem.


"As daar iemand op die lyn is wat Afrikaanssprekend is en jy kan nie
Afrikaans praat nie, moet daardie persoon op die lyn bly totdat daar iemand
beskikbaar is wat Afrikaans kan praat."


Dr. Johan Burger, 'n senior navorser aan die Instituut vir
Sekerheidstudies, het gesê hoewel polisielede enige plek kan werk, is dit
net prakties om hulle in 'n gebied te plaas waar hulle die taal en kultuur
van die gemeenskap verstaan.


Die beampte, wat al die afgelope vier jaar by die sentrum werk, het gesê
hulle werk agt uur per dag sonder 'n kans vir middagete. Die teepouse is
sowat 20 minute. "Omdat mense in die verlede so gemors het in die sentrum,
word niemand meer toegelaat om daar te eet nie."


Hulle werk tans onder enorme druk en weet nie hoe lank hulle nog so kan
aangaan nie. "'n Persoon se lewe hang af van hoe lank jy neem om die
telefoon te antwoord, maar jy weet nie wat die persoon gaan vra en of jy
hom van die nodige antwoorde kan voorsien nie.


"Die probleem kán opgelos word. Dit verg net tyd en opleiding."


Burger sê die probleme by die dienssentrum is verstommend, veral in die lig
van hoe die ­polisiediens die afgelope paar jaar uitgebrei is. "In dié
geval lyk dit na 'n kwessie van swak bestuur."


Dir. Novela Potelwa, woordvoerder van komm. Mzwandile Petros, die
Wes-Kaapse polisiehoof, het by navraag gesê 50 nuwe personeellede is
verlede jaar in diens geneem. Na verneem word, is bykans 60% van die
personeellede in die dienssentrum Afrikaans magtig. "Ons is tans besig met
skuiwe om meer mense aan te stel om onder meer die taaleise te hanteer."


Al die stresverwante sake word deur die provinsie se
werknemers-ondersteuningsprogram gehanteer en die redes vir stres wissel
van geval tot geval.


"Tot dusver is daar geen bewyse dat stres die oorsaak van bedankings is nie."
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Die Burger

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 2 guests

cron