2008-01-30 : Koeëls reën by casino

http://www.dieburger.com <br>dbmening@dieburger.com

Moderators: GenMod, AfrMod

2008-01-30 : Koeëls reën by casino

Postby GOSA » Fri, 2008-03-07 07:41

(Note that casinos are some of the few places which are conform to the firearm-free zone legislation of the FCA 2000)

OOS-KAAP: Koeëls reën by casino
BOBBI SCHECKLEEN RIËTTE OLIVIER
30/01/2008 10:47:11 AM - (SA)


http://www.dieburger.com/Stories/News/R ... 54739.aspx


PORT ELIZABETH. ­ Die Boardwalk-casinokompleks is gisteroggend kort ná
middernag in chaos gedompel toe 'n stuk of 14 gewapende rowers op die
kompleks toegeslaan en met meer as R250 000 weggekom het.


Casinobesoekers het sekondes nadat 'n groep van sowat ses rowers met die
geld by die casino uitgestap het, angsbevange vir skuiling gehardloop toe
skote afgevuur is.


Terwyl drie gewapende rowers by elk van die ingange van die kompleks gewaak
en twee in wegkommotors gewag het, het nog sowat ses rowers kort na 01:00
die casino binnegestorm en selfs die veiligheidstralies van die
kontanttoonbanke oopgebuig om by die geld uit te kom, aldus insp. Kanna
Swanepoel, ondersoekbeampte.


Die rowers het glo toegang tot die casino verkry deur die twee
sekerheidsbeamptes voor die ingang met 'n vuurwapen te dreig, het mnr. Ed
Richardson, kommunikasiebeampte van die casino, gesê.


Binne drie minute het die rowers hul sakke met honderdduisende rande
volgestop en doodluiters in 'n groep uit die gebou gestap. Eers toe hulle
buite was, het die sekerheidsbeamptes ­ en selfs 'n paar klante ­ die
rowers agterna probeer sit, het 'n ooggetuie, mnr. Christopher Burisch, gesê.


Intussen was beamptes van Atlas-sekerheid op 'n roetine-patrollie op die
parkeerterrein toe hulle by die kompleks ingeloop het.


"Die beamptes het oor die Boardwalk se sekerheidsradio gehoor daar is
gewapende rowers in die casino. Net daarna het drie van die rowers wat by
die ingang gewaak het, hulle beveel om hul vuurwapen én Atlas-radio te
oorhandig. Hulle moes ook op die grond gaan lê," het mnr. Monty Montgomery,
opera­sionele bestuurder van Atlas, gesê.


Die rowers het omgedraai om na een van die wegkommotors, 'n swart
Corsa-bakkie, te gaan. Toe het die beamptes opgespring en in die rigting
van die flieks gehardloop op soek na skuiling.


"Die rowers het vier skote op hulle gevuur. Dít was die eerste skote in die
voorval," het Montgomery gesê.


Terwyl die ander rowers, van die casino-sekerheidsbeamptes en gaste gevlug
het, is nog skote afgevuur, het Swanepoel gesê.


"Hulle het in die wegkommotors, die bakkie en 'n BMW, gespring en dwarsdeur
die valhek gejaag."


Die polisie en nog Atlas-beamptes het enkele minute later daar aangekom.
Volgens mnr. Mervyn Naidoo, bestuurder van die Boardwalk, het
casino-beamptes die noodknoppie gedruk terwyl die rowers nog in die casino was.


Montgomery meen egter dit was later. "Die noodoproep het ons eers bereik
toe die rowers klaar buite die gebou was. As dit vroeër was, kon ons hulle
dalk gevang het."


Albei die rowers se wegkom­motors is later in 5de Laan in Somerstrand
gevind. Volgens Swanepoel het die rowers die wegkom­motors net gebruik om
by ander motors, wat hulle vermoedelik vroeër die aand daar geparkeer het,
te kom.


Die wegkommotors is in Johannesburg gesteel. "In die bakkie was 'n
polisie-identiteitskaart van 'n beampte van die blitspatrollie in
Johannesburg," het 'n anonieme polisiebron gesê.


Dié motors is nou vir forensiese toetse gestuur vir vingerafdrukke.


Volgens dir. Ronald Koll, bevelvoerder van die Humewood-polisiekantoor, kan
van die rowers duidelik gesien word op die casino se sekerheidskameras.
Swanepoel het egter gesê die beeld op die kameras help hulle nie veel nie,
aangesien die rowers hoede laag oor hul gesigte getrek het.


Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die rowers by ander rooftogte in
die land betrokke was. "Hulle lyk na ou hande in dié tipe rooftog en ons
sal nou rekords trek van vorige voorvalle om vas te stel of daar 'n patroon
is," het Swanepoel gesê.


Richardson het gesê alle werknemers wat ten tye van die rooftog aan diens
was, sal berading ontvang. "Dis net genade dat niemand in die rooftog
beseer is nie."


Hy glo die feit dat nie een van die casino se sekerheidsbeamptes gewapen is
nie, moontlik hiertoe aanleiding gegee het.


"As die beamptes op die rowers geskiet het, kon van die klante en
werknemers erg beseer of selfs doodgeskiet gewees het."


Teen druktyd is daar nog geen verdagtes in hegtenis geneem nie.
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Die Burger

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron