2008-01-13 : Drie van polisie vas ná boer in 'ongeluk' sterf

http://www.dieburger.com <br>dbmening@dieburger.com

Moderators: GenMod, AfrMod

2008-01-13 : Drie van polisie vas ná boer in 'ongeluk' sterf

Postby GOSA » Fri, 2008-03-07 06:59

http://www.dieburger.com/Stories/News/R ... 67818.aspx


Drie van polisie vas ná boer in 'ongeluk' sterf
RIËTTE OLIVIER
13/01/2008 11:08:05 PM - (SA)


FORT BEAUFORT. ­ Drie polisielede is aangekeer nadat hulle na bewering 'n
plaasboer van hier, wat hulle glo vir 'n misdadiger aangesien het, in die
kop geskiet het en toe voorgegee het dat die man in 'n motorongeluk dood is.


Die voorval het in Mei 2006 op 'n plaas buite Seymour plaasgevind, maar die
inhegtenisneming van die drie polisiebeamptes, twee van Seymour en een van
Fort Beaufort, het weens "rompslomp" gesloer tot Vrydagmiddag, het adv.
Sakhele Poswa, Oos-Kaapse hoof van die onafhanklike klagtedirektoraat
(OKD), gesê.


Volgens kapt. Mali Govender, polisiewoordvoerder, het die polisie des­tyds
inligting ontvang dat 'n vermeende misdadiger wat by verskeie aanrandings
en gewapende rooftogte in die omgewing betrokke was, op die plaas van die
oorledene, mnr. Shadrack Vusumzi Nkuzo, skuil.


"Polisiebeamptes het die plaas omsingel en toe die inwoners van die huis
met 'n luidspreker beveel om uit te kom. Luidens die verslae van die
beamptes op die toneel het die boer (Nkuzo) uit die huis gekom en op die
beamptes begin skiet.


"Die beamptes het teruggevuur en Nkuzo is in die kop getref," het sy
verduidelik.


Tog het die uitslag van 'n na-doodse ondersoek gelui Nkuzo het gesterf
weens beserings wat hy in 'n motorongeluk opgedoen het.


Volgens Poswa is die uitslag van dié ondersoek die rede waarom hulle onraad
vermoed en die optrede van die drie beamptes ondersoek het.


In September 2006 is Nkuzo se lyk opgegrawe en 'n tweede nadoodse ondersoek
gedoen. Dié ondersoek het getoon dat Nkuzo weens 'n koeëlwond beswyk het.


"Die OKD se ondersoek na sy dood het getoon dat die lyk, saam met 'n
ongeluksverslag van die polisie, na die lykshuis gebring is. Die dokter aan
diens het toe glo net die verslag deurgelees en geteken dat dit wel die
oorsaak van sy dood was."


Die polisie hou op hul beurt vol dat Nkuzo se lyk en die lyk van 'n ander
man in die lykshuis omgeruil is, en dat die nadoodse ondersoek op die
verkeerde lyk uitgevoer is, het Govender gesê.


Die OKD het alle aspekte van Nkuzo se dood ondersoek en verdere verklarings
van al die ooggetuies verkry, waarna drie polisiebeamptes Vrydag om 16:00
in hegtenis geneem is.


Dié mans word by die Seymour-polisiekantoor aangehou en sal vandag in die
landdroshof daar verskyn.


Die beamptes sal tydens hul verskyning, na wat verneem word, vir borgtog
aansoek doen.


Volgens Poswa het die OKD op hierdie tydstip geen mandaat vir 'n ondersoek
na die dokter wat die eerste nadoodse ondersoek uitgevoer het nie.


Govender kon gister nie bevestig of die vermeende misdadiger wel op die
plaas was en of die polisie hom later vasgetrek het nie.
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Die Burger

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron