2009-06-24: Vuurwapens: Hoe dan nou?

http://www.beeld.co.za<br>
Kontak Beeld deur op "Kontak ons" heel onder op die webblad te kliek.

Moderators: GenMod, AfrMod

2009-06-24: Vuurwapens: Hoe dan nou?

Postby GOSA » Wed, 2009-06-24 11:30

http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/ ... 27,00.html

Vuurwapens: Hoe dan nou?


Jeanne-Marié Versluis


Hoe gaan staatsamptenare in die toekoms byhou as hulle die afgelope
vyf jaar net die helfte van die sowat 700 000 aansoeke om
bevoegdheidsertifikate vir vuurwapeneienaars kon hanteer?


Vyf jaar nadat die eerste bevoegdheidsertifikate kragtens die nuwe Wet
op Vuurwapenbeheer uitgereik is, moet al dié sertifikate weer in die
volgende vyf jaar hernu word.


So het adv. Bertus Bergen-thuin SC gister namens die Suid-Afrikaanse
Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) in die hooggeregshof in
Pretoria aangevoer.


Die SAJWV doen van gister in die hof dringend aansoek om 'n
tussentydse bevel dat vuurwapens wat kragtens die Wet op Vuurwapens en
Ammunisie van 1969 gelisensieer is, steeds as wettig beskou word
totdat 'n aansoek oor die nuwe Vuurwapenbeheerwet afgehandel is.


In dié hoofaansoek oor die nuwe wet wat op 1 Julie 2004 in werking
getree het, gaan die SAJWV die hof vra om skedule 1 daarvan
ongrondwetlik te verklaar.


Skedule 1 bevat die oorgangsmaatreëls waarvolgens vuurwapeneienaars
van 1 Julie 2004 tot 30 Junie 2009 tyd gehad het om hul lisensies te
laat hernu. Dié wat dit nie hernu het nie, kon van hul wapens ontslae
raak.


Intussen is alle bestaande lisensies tot 30 Junie geldig.


Bergenthuin het gesê in die hoofaansoek gaan gevra word dat skedule 1
ongeldig verklaar en vervang word met 'n nuwe, billike oorgangstelsel.


Die eienaars met lisensies kragtens die 1969-wet sal ná 30 Junie van
hul eienaarskap ontneem word as hulle nie om lisensiehernuwing aansoek
gedoen het nie.


Hulle is behoorlik gelisensieer kragtens die 1969-wet. "Dit was
wettig." Daardie vuurwapenbesit sal onwettig word op 1 Julie vanjaar
en dít is skending van 'n reg.


Bergenthuin het voorts gesê die minister van polisie het nie
hulpbronne om die hernuwingsaansoeke af te handel nie.


Die staatsamptenare het die afgelope ses maande eers die gevolge van
skedule 1 van die wet besef.


Die minister moet ook "feite gee waarvan afgelei kan word dat wettige
vuurwapens tot geweld in Suid-Afrika bydra", het hy gesê.


Die SAJWV meen sy lede se reg op administratiewe billikheid word
geskend deur die onregverdige en onlogiese oorgangsbepalings van die
nuwe wet.


Luidens die minister se hofstukke het geen administratiewe aksie egter
al plaasgevind in dié gevalle waar lisensies nog nie hernu is nie.


Dit is onseker hoeveel mense die bepalings in skedule 1 sal gebruik om
van hul vuurwapens ontslae te raak.


"Die applikant (SAJWV) se vrese dat 1,3 miljoen vuurwapens binne die
volgende twee weke in die hande van die polisie sal beland, is
ongegrond."


Luidens die minister se hofstukke bespiegel die SAJWV "oor die
verskeie hipotetiese scenario's wat mag voorkom" en saai die
vereniging agterdog oor die administratiewe vermoë van die polisie
voordat dit getoets is.


Die geding word vanoggend voor regter Bill Prinsloo hervat.
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Beeld

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 2 guests

cron