2008-02-26 : Sersant skiet hom ná roof

http://www.beeld.co.za<br>
Kontak Beeld deur op "Kontak ons" heel onder op die webblad te kliek.

Moderators: GenMod, AfrMod

2008-02-26 : Sersant skiet hom ná roof

Postby GOSA » Mon, 2008-04-14 07:07

Sersant skiet hom ná roof
Feb 26 2008 07:40:29:587AM - (SA)

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika ... 98,00.html

Hilda Fourie

’n Sersant van die Sunnyside-polisiekantoor in Pretoria het homself glo gisteraand in die kop geskiet nadat hy vir die polisie weggejaag het ná ’n gewapende rooftog in Doornpoort in die noorde van die stad waarby hy na bewering betrokke was.

Twee verdagtes, onder wie na bewering ’n sersant van die Wierdabrug-polisiekantoor, is volgens betroubare bronne gearresteer. Drie mans is nog op vrye voet.

’n Inwoner van die huis in Amandelboomstraat waar die gewapende rooftog plaasgevind het, het gesê ses mans in siviele drag wat gesê het hulle is polisiemanne, het omstreeks 19:30 by die huis aangeklop en gevra om die inwoners se “verblyfdokumente” te sien. Die inwoners is Pakistani’s.

“Ons het ons dokumente vir hulle gewys en die mans het gesê dis vervals. Die polisiemanne het ons selfone geneem en geld geëis,” het die inwoner gesê.

Die Sinoville-polisiekantoor het intussen ’n klag ontvang dat ’n gewapende rooftog aan die gang was en lede van dié kantoor het om 19:40 by die huis opgedaag.

’n Polisieman op die toneel het gesê toe hulle by die huis aankom, het ’n Volkswagen Polo by die erf uitgery. Die polisie het dit agternagesit en verskeie skote daarop geskiet. Sowat ’n kilometer van die huis af was die Polo in ’n botsing met ’n bakkie betrokke.

Volgens Beeld se bronne is die sersant van Sunnyside se lyk met ’n skietwond in die kop in die motor gekry. Hy was alleen in die motor en het homself glo net ná die ongeluk geskiet.

Daar is later vasgestel dat die Polo ’n ongemerkte polisiemotor van die Sunnyside-polisiekantoor is, is aan Beeld gesê.

Terwyl Beeld op die toneel was, het ’n senior polisieman opgedaag en gevra: “Waar is my sersant?” ’n Polisieman het aan hom gesê: “Hy is nog daar in die motor.”

Die senior polisieman het toe gevra waar die motor is, waarop laasgenoemde geantwoord het: “ ’n Kilometer af in die pad.”

’n Lid van die Tshwane-metropolisie het intussen met die die hulp van die publiek ’n verdagte in ’n aangrensende straat vasgetrek. Die selfoon van een van die inwoners van die huis wat deur die ses mans aangehou is, is in dié man se baadjiesak gevind.

Nog ’n verdagte – volgens Beeld se bronne ’n sersant van die Wierdabrug-polisiekantoor – is voor die huis deur die inwoners van die huis vasgekeer.

’n Vuurwapen is later in die erf langsaan gevind. Drie ander verdagtes is nog soek.

Die inwoners is nie beseer nie.

Supt. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig, maar hy kon nie bevestig of polisiemanne by die rooftog betrokke was nie. Dlamini sê hy sal vandag meer inligting kan gee.
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1598
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Beeld

Who is online

Users browsing this forum: Google [Bot] and 1 guest

cron