2007-11-18: Woordeloos skiet rowers eienaar van kafee dalk m

http://www.beeld.co.za<br>
Kontak Beeld deur op "Kontak ons" heel onder op die webblad te kliek.

Moderators: GenMod, AfrMod

2007-11-18: Woordeloos skiet rowers eienaar van kafee dalk m

Postby Rudi » Mon, 2007-11-19 20:13

Woordeloos skiet rowers eienaar van kafee dalk met sy eie geweer

Nov 18 2007 08:51:25:260PM - (SA)

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2223222,00.html

Annelene Moses

’n Kafee-eienaar in Vryheid, KwaZulu-Natal, is vermoedelik met sy haelgeweer, wat drie weke gelede in ’n inbraak gesteel is, voor sy vrou doodgeskiet.

Mnr. Herman Strydom (45) en sy vrou, Helena (44), is Vrydagaand op hul kleinhoewe buite die dorp deur drie gewapende mans voorgelê.

Strydom het die veiligheidshek en die deur oopgesluit en agteruit getree sodat sy vrou die huis kon binnegaan, toe hulle deur die mans verras is.

Volgens kapt. Vusi Mbatha, polisiewoordvoerder, het die boewe sonder om ’n woord te uiter, twee skote op mnr. Strydom gevuur.

Hy is in die nek en bors getref en het op die toneel gesterf.

Mnr. Gert van Wyk, mev. Strydom se pa, het gister aan Beeld gesê sy het probeer om haar bebloede man oor die stoep na binne te sleep.

“Die paniekknoppie is teen die muur agter die deur en sy het seker daarteen gestamp. Hulle het geskrik toe die alarm afgaan en weggehardloop.

“Sy is in só ’n toestand en wil net alleen gelaat word,” het hy gesê.

Die aanvallers het gevlug, maar nie voordat hulle haar handsak, wat geval het terwyl sy haar sterwende man na veiligheid wou help, gegryp het nie.

Hul kleindogter, Simoné (8), wat in die huis was, het wakker geskrik toe die skote klap.

Sy het uitgehardloop en op haar oupa afgekom.

Die egpaar het voor die voorval van die dorp af gekom nadat hulle oudergewoonte hul kafee om 21:00 gaan sluit het.

Mnr. Strydom se pa, Coen, wat op dieselfde kleinhoewe woon, het die alarm gehoor en gehardloop om ondersoek te gaan instel. “Ek het dadelik my haelgeweer gegryp.

“Hulle was reeds weg toe ek by my seun uitkom. Hy is seker op ’n afstand van sowat drie meter geskiet en het basies onmiddellik gesterf.”

Hy het gesê die egpaar se huis is weke gelede besteel terwyl hulle by die kafee was.

“Hulle het by die huis gekom en drie mans oor die muur sien spring. Juwele en my seun se haelgeweer is gesteel.”

Me. Trudi du Plessis het gesê haar broer was die wonderlikste man, wat gelewe het om ander te help.

“Ek kan nou nog nie glo hulle het hom vermoor nie. Hy was oral gelief en die hele gemeenskap is totaal geskok.

“Hy het die wapen aangehou om sy gesin te beskerm en ons vermoed dit is dieselfde wapen waarmee hy om die lewe gebring is.”

Die egpaar het in Julie hul tweede huweliksherdenking gevier. Strydom word ook deur twee kinders, Denise (25) en Coenie (22), oorleef.

Hy sal Vrydag om 14:00 vanuit die Ou Apostoliese Kerk in Kerkstraat, Vryheid, begrawe word.
Rudi
 
Posts: 405
Joined: Thu, 2006-03-30 08:42
Location: Sandton, South Africa

Return to Beeld

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 2 guests

cron