2007-11-18: Boere trek 5 vas wat werker doodslaan

http://www.beeld.co.za<br>
Kontak Beeld deur op "Kontak ons" heel onder op die webblad te kliek.

Moderators: GenMod, AfrMod

2007-11-18: Boere trek 5 vas wat werker doodslaan

Postby Rudi » Mon, 2007-11-19 20:12

Boere trek 5 vas wat werker doodslaan
Nov 18 2007 09:37:16:307PM - (SA)

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2223261,00.html

Henry Cloete en Anina Alexander

Bloemfontein. – Boere van die Trompsburg-omgewing het die naweek vyf rowers omsingel en aangekeer op ’n plaas waar ’n mede-boer gewond en een van sy werkers doodgeslaan is.

Een van die vasgekeerde boewe het glo selfmoord gepleeg. Polisieduikers het sy lyk eergistermiddag uit ’n spruit gehaal.

Mnr. Flip Henning (64) van die plaas Straussfontein het eergisteroggend vroeg na sy werkers se huise gery nadat hulle nie vir oggendgodsdiens by die gewone bymekaarkomplek naby die plaashuis opgedaag het nie.

Hy het die vyf rowers, wat die werkers gedurende die nag geterroriseer en een van hulle, mnr. Kallie Pieterse (48), met ’n ysterpyp doodgeslaan het, teëgekom. Hy het blykbaar in ’n skermutseling met van hulle betrokke geraak voordat hy met sy bakkie probeer wegjaag het.

Vier van die rowers het vuurwapens gehad en op die bakkie losgebrand. Een van die koeëls is by Henning se linkerblad in en het sy dunderm deurboor.

Voordat hy by sy huis aangekom het, het hy twee selfoonoproepe gemaak: een na sy dokter en een na sy buurman, wie hy gevra het om alarm te maak via die tweerigting-radiostelsel waarmee boere in die omgewing met mekaar in verbinding bly.

Mnr. P.D. Jacobs, voorsitter van die Trompsburg-boere-unie, sê die boere van Trompsburg en Edenburg se samewerking was uitstekend.

“Dit het nie lank geneem om die ingangsroetes na die plaas te versper nie. Toe die rowers sien hulle gaan nie wegkom met hul motor nie, het hulle te voet op vlug geslaan.”

Hy sê die boere het op die rowers toegesak en hulle gedwing om hul wapens neer te lê.

“Ons het hulle in samewerking met die polisie aangekeer by die spruit op die plaas. Die polisie het maar voete gesleep aan die begin, maar later goed deelgeneem, hoewel sommige van hulle ongewapen op die plaas aangekom het.”

Hy sê hulle het drie handwapens en ’n semi-outomatiese haelgeweer by die rowers afgeneem.

Henning is na die Bloemfontein Medi-Clinic gehaas, waar hy eergister geopereer is. Hy was gister in ’n stabiele toestand.
Rudi
 
Posts: 405
Joined: Thu, 2006-03-30 08:42
Location: Sandton, South Africa

Return to Beeld

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron