2007-11-08: Dief wat honde vergif skuldig aan huisbraak

http://www.beeld.co.za<br>
Kontak Beeld deur op "Kontak ons" heel onder op die webblad te kliek.

Moderators: GenMod, AfrMod

2007-11-08: Dief wat honde vergif skuldig aan huisbraak

Postby Rudi » Fri, 2007-11-09 22:33

Dief wat honde vergif skuldig aan huisbraak
Nov 08 2007 10:06:18:783PM - (SA)

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2217860,00.html

Hilda Fourie


“Hoekom kan Liewe Jesus nie sy eie hond kry en Rusty vir ons teruggee nie?”

Só het ’n ses-jarige seuntjie gevra nadat sy hond deur ’n rower met die dodelike gif, Two-step, vergiftig is.

Rusty was een van twee honde wat Oupa Phineas Lekowa vergiftig het om by dié erf in te kom en die huis te beroof.

Lekowa (46) is gister in die landdroshof in Pretoria-Noord skuldig bevind op vyf aanklagte van huisbraak met die opset om te steel, drie klagte van opsetlike saakbeskadiging, ’n klag van diefstal en ’n klag van die onwettige besit van ’n vuurwapen.

Sy vriendin, me. Rosinah Gangwa (30), wat saam met Le­kowa aangekla is, is op al die aanklagte onskuldig bevind.

Lekowa het tussen April 2002 en Mei 2003 op ’n plundertog deur huise in Centurion gegaan.

Hy het onder meer ’n karavaan, televisies, radio’s, video-opnemers, DVD-spelers, CD’s, mikrogolfoonde, rekenaars, klere en kos gesteel.

Landdros Ben van Schalkwyk het gesê Lekowa se modus operandi was elke keer dieselfde.

Hy het voor die huis stilgehou, die klokkie gedruk om te sien of daar mense is, dan het hy weggery, later teruggekom, die honde vergiftig, ingebreek en dan die gesteelde goedere in sy motor gelaai. Lekowa het altesame ses honde só vergiftig.

Van Schalkwyk het gesê ná een van die laaste inbrake is Lekowa se motor deur die polisie opgemerk.

“Die voertuig het weggejaag, handrem-U-draaie in die pad gemaak en in ’n doodloopstraat tot stilstand gekom,” het Van Schalkwyk gesê.

“Die verdagte het om die voertuig geloop en toe weggehardloop. Gesteelde goedere, worsies met Two-step in en ’n identiteitsdokument met Lekowa se foto in, is in die motor gevind. Die identiteitsdokument was vervals.

“Me. Gangwa het die volgende dag gebel en gesê haar motor is in Diepsloot gekaap. Dit het geblyk die kaping en die inbraak was omtrent dieselfde tyd. As die motor in Diepsloot gekaap is en die kapers het nog gaan inbreek ook, moes hulle vinniger as Superman gewees het,” het Van Schalkwyk gesê.

“Lekowa het die motor bestuur. Gangwa kan nie eens bestuur nie. Die kaping is net ’n rookskerm.”

Lekowa, wat ’n uitgebreide kriminele rekord het, is kort daarna in hegtenis geneem. Hy word volgende week gevonnis.
Rudi
 
Posts: 405
Joined: Thu, 2006-03-30 08:42
Location: Sandton, South Africa

Return to Beeld

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron