2007-11-08: Hy voel Here by hom tydens roof

http://www.beeld.co.za<br>
Kontak Beeld deur op "Kontak ons" heel onder op die webblad te kliek.

Moderators: GenMod, AfrMod

2007-11-08: Hy voel Here by hom tydens roof

Postby Rudi » Fri, 2007-11-09 22:29

Hy voel Here by hom tydens roof
Nov 08 2007 10:06:35:563PM - (SA)

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2217851,00.html

Virginia Keppler


’N16-jarige seun van Montanapark, in die noorde van Pretoria, het al biddend en huilend op hul kombuisvloer gelê terwyl twee gewapende rowers gestry het oor hoe om hom vas te bind.

’n Steeds geskokte Gerhard Engelbrecht, ’n gr. 10-leerling aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, het gister gesê die rowers het toe ooreengekom om sy hande en voete met sy pa, Gerrie, se dasse agter sy rug vas te bind.

Dié voorval het eergister net ná 10:00 plaasgevind terwyl Gerhard tuis studeer het. Hy sê ’n vrou en haar “twee seuns” het aangeklop en gesê hulle stel belang om die huis te koop. Dié huis is geruime tyd in die mark.

Terwyl Gerhard vir hulle die huis buite en binne gewys het, het die buurvrou, wat anoniem wil bly, deur ’n venster in haar huis gesien hoe nog twee gewapende rowers met ’n motor by die erf inry en skelm by die huis inglip.

Sy het die polisie probeer bel, maar probleme met haar foon ondervind. Sy het toe ’n ander buurman geroep en gesê hy moet die polisie ontbied.

Intussen het die rowers die huis begin leeg dra terwyl Gerhard biddend op die vloer gelê het. “Ek het geweet ek gaan nie dood nie want ek het die Here by my gevoel.”

Die rowers het verskeie elektroniese toerusting, asook Gerhard se leë beursie en sy stukkende horlosie gesteel voordat hulle gevlug het. “Ek het opgesukkel en met my mond ’n mes van die tafel opgetel en dit gebruik om die paniekknoppie te druk. Toe die veiligheidsmaatskappy bel, het ek die foon van die mikkie gestamp en om hulp geskreeu.”

Hy het daarna buitentoe gehop waar die buurvrou nader gehardloop en sy hande losgemaak het.

Mev. Susan Engelbrecht, sy ma, sê die Sinoville-polisie was binne oomblikke op die toneel en het vingerafdrukke geneem.

Hulle het ook ’n berader uitgestuur. Sy is baie bly Gerhard het hom nie teengesit teen die rowers nie.

Gerhard het gister eksamen in tegniese tekeninge afgelê, maar moes halfpad stop omdat hy nie kon konsentreer nie.

Insp. Paul Ramaloko, polisiewoordvoerder, sê twee vroue van Soshanguve, noord van Pretoria, en drie mans van Mamelodi in die stad se ooste, is gisteroggend 01:00 in verband met dié rooftog gearresteer.

“Die polisie het ook van die gesteelde goedere teruggevind en beslag gelê op ander goedere wat reeds verkoop was,” het Ramaloko gesê.

Hy sê die polisie verwag nog meer arrestasies.

Die polisie vermoed die rowers is verantwoordelik vir talle diefstalle by toonhuise en het slagoffers gevra om insp. Ben Strydom te kontak by 0 012 543 0800, 0 012 543 8800 of 0 082 461 6277.
Rudi
 
Posts: 405
Joined: Thu, 2006-03-30 08:42
Location: Sandton, South Africa

Return to Beeld

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron