2007-11-06: Toiletpapier handig in sentrumroof

http://www.beeld.co.za<br>
Kontak Beeld deur op "Kontak ons" heel onder op die webblad te kliek.

Moderators: GenMod, AfrMod

2007-11-06: Toiletpapier handig in sentrumroof

Postby Rudi » Fri, 2007-11-09 21:50

Toiletpapier handig in sentrumroof
Nov 06 2007 10:32:15:257PM - (SA)

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2216232,00.html

Virginia Keppler

’n Pa moes toiletpapier nat maak en in sy skreeuende driejarige seun se mond
druk terwyl hulle in ’n toilet by Montana Action Sport-sentrum, noord van
Pretoria, vir 12 gewapende rowers weggekruip het.

Mnr. Phillip Williams (27) en sy seun, Justin (3), het eergisteraand 45 min.
lank daar weggekruip terwyl die rowers ander werknemers en kliënte met
krieketkolwe, pype en vuurwapens geslaan het.

Sewe van die twaalf rowers het die mense binne aangehou terwyl die ander vyf
rowers die veiligheidswag buite aangehou en waggehou het.

“Ek het Justin se mond met my hand toegedruk, maar hy het bly skreeu en huil
vir sy ma. Ek was bang die rowers hoor ons en toe maak ek toiletpapier nat
en druk dit in sy mond om die klank te demp.

“Toe bel ek die polisie se 10111 nommer en vertel wat besig was om te
gebeur. Hulle het nooit gekom nie,” sê Williams teleurgesteld.

Williams se vriendin, me. Joyce Machwane, wat by die sonbedkamer
ingehardloop het, is later deur die rowers daar gevind en gedwing om saam
met die ander mense op die eerste verdieping van die gebou se vloer te gaan
lê. Die rowers het hulle vasgebind, geskop en geslaan met pype en
krieketkolwe.

Mnr. Francois Theunissen (27), bestuurder van die sentrum, sê die rowers het
omstreeks 23:45 ingehardloop gekom en gesê almal moet stil bly en op die
vloer plat lê. “Hulle het almal vuurwapens gehad. Hulle het ons hande en
voete met skoenveters en plastiekkabels vasgebind en toe ons van selfone,
geld, juwele, alkohol, kriekettoerusting, ’n televisie, rekenaarhardeskywe
en ander elektroniese toerusting beroof.”

Die rowers het hom met ’n pyp en kolf oor die lyf geslaan sodat hy die kluis
moet oopsluit waar hulle R10 000 gesteel het. Hulle het ook sy wit Ford
Ranger (SCH 178 GP) en ’n ander man se voertuig gesteel.

Mnr. Karel Rautenbach (21), die kroegman, is drie keer agter sy kop met ’n
vuurwapen geslaan en op sy regtersy met ’n krieketkolf geslaan.

Sy kollega, mnr. Johannes Kgatla, is met ’n kolf oor die kop geslaan.
Theunissen sê een van hul veiligheidswagte is buite deur vyf rowers
aangehou. “Hy is geslaan en het vertel dat twee skote buite afgevuur is.”

Volgens hom het die Sinoville-polisie ’n uur later opgedaag. “Die
blitspatrollie het nooit gekom nie. As hulle betyds was, sou hulle die
rowers kon vang. Van hulle is eers sowat 45 min. later hier weg.”

Insp. Paul Ramaloko, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek die
voorval.
Rudi
 
Posts: 405
Joined: Thu, 2006-03-30 08:42
Location: Sandton, South Africa

Return to Beeld

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 2 guests

cron