2007-11-07: Rowers rol kar ná kopskoot

http://www.beeld.co.za<br>
Kontak Beeld deur op "Kontak ons" heel onder op die webblad te kliek.

Moderators: GenMod, AfrMod

2007-11-07: Rowers rol kar ná kopskoot

Postby Rudi » Fri, 2007-11-09 21:49

Rowers rol kar ná kopskoot
Nov 07 2007 08:35:53:353AM - (SA)

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2216422,00.html

Francois du Plessis

Drie vermeende gewapende rowers wat etlike minute tevore ’n
vervoermaatskappy beroof én die eienaar daarvan deur die kop geskiet het, is
kritiek beseer toe hul wegkommotor omgeslaan en verskeie kere gerol het.

Mnr. Ebrahim Omar, eienaar van die Eso-vervoermaatskappy in Benoni aan die
Oos-Rand, het gistermiddag laat gesterf.

Mnr. Nadeem Kahn, sy skoonseun, het ná die rooftog by die onderneming in Van
Wykstraat in Brentwoodpark, die rowers agternagesit.

Hul motor het tydens dié jaagtog gerol.

Een van die drie vermeende rowers is per helikopter na ’n nabygeleë
hospitaal geneem, terwyl die ander twee ook onder polisiebewaking in
ambulanse daarheen gehaas is. Hulle is op lewenstoestelle geplaas.

’n Vierde verdagte, wat ook in die motor was, is lig beseer en is op die
toneel in hegtenis geneem.

Die ongeluk het omstreeks 13:00 op die Tom Jones-afrit van die N12-hoofweg
in Benoni gebeur.

Die verdagtes het met ’n goudkleurige Honda Civic gery.

Volgens kapt. Jethro Mtshali, polisiewoordvoerder, het die rowers by die
afrit afgejaag en glo ’n Mercedes-Benz getref.

Die bestuurder van die Mercedes-Benz is nie beseer nie.

Intussen is met Omar en ’n veiligheidswag by sy onderneming, wat tydens die
skietery in albei bene gewond is, na ’n hospitaal gejaag.

Me. Marthie Rowjee, Omar se persoonlike assistent, het gisteraand gesê sy
familie is verpletter.

“Hy sou later dié maand sy 47ste verjaardag gevier het en het altyd na die
belange van andere omgesien.”

In die rowers se motorwrak, waarin hulle ook vasgepen was, het die polisie
drie 9 mm-pistole, asook ’n onbekende bedrag geld wat vermoedelik tydens die
rooftog gesteel is, gevind.

Volgens mnr. Nick Dollman, Netcare 911-woordvoerder, het die drie verdagtes
veelvuldige kopbeserings opgedoen.

“Hulle was in ’n baie slegte toestand,” het hy gesê.

Mtshali het gesê die vier mans sal op aanklagte van moord en gewapende roof
in die hof verskyn sodra hul toestand dit toelaat.
Rudi
 
Posts: 405
Joined: Thu, 2006-03-30 08:42
Location: Sandton, South Africa

Return to Beeld

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron