2007-11-06: Polisielede spuit glo pepersproei voor hulle sko

http://www.beeld.co.za<br>
Kontak Beeld deur op "Kontak ons" heel onder op die webblad te kliek.

Moderators: GenMod, AfrMod

2007-11-06: Polisielede spuit glo pepersproei voor hulle sko

Postby Rudi » Fri, 2007-11-09 21:48

Polisielede spuit glo pepersproei voor hulle skop, slaan
Nov 06 2007 10:32:13:397PM - (SA)

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2216233,00.html

Christel Raubenheimer

Hy is glo geboei, herhaaldelik met pepersproei gespuit, geskop en geslaan.

Toe is mnr. Cecil Hunter (31) in die Benoni-polisieselle gegooi – na
bewering omdat hy vroeër die aand in die verkeerde rigting in ’n
eenrigtingstraat gery het.

“Ek is half skaam hieroor, maar hulle het my geslaan tot my blaas en alles
leeg was. Toe sê hulle vir my: ‘Now you’re brave, sh*tting in your pants’,”
het Hunter gister vertel.

Hunter is Vrydag in die vroeë oggendure glo deur lede van die Benoni-polisie
van die pad afgetrek omdat hy na bewering met sy motor teen die verkeer
ingery het.

Hy het stilgehou en een van die polisielede het Hunter gevra wat hy “aan die
situasie” gaan doen.

Hunter het ontken dat hy enigiets verkeerd gedoen het en vir die
polisielede, ’n man en ’n vrou, se identifikasie gevra. Hulle het glo
geweier om dit te wys.

“Die man het my gegryp en die vrou het my vier of vyf keer met pepersproei
gespuit. Ek kon nie sien nie en hulle het my hande agter my rug geboei. Ek
het gevoel hoe haal een my beursie uit my sak en ek het begin skreeu. Ek hét
my verset teen arrestasie,” het hy gesê.

Hunter het agter in die vangwa sy geboeide hande onderdeur sy voete gewikkel
en sy vriendin gebel. By die Benoni-polisiekantoor is hy aangerand, het
Hunter beweer.

Sy gewrigte het steeds rowe waar die boeie daarin gesny het. Die swelling om
sy oog het gesak, maar dit is steeds bloedbelope en daar is reuse-bloukolle
oral op sy lyf.

Hunter beweer hy het in die aanhoudingselle vir mediese behandeling gevra,
maar dit is geweier.

“My opinie was dat hulle gehoop het ek koop hulle om, maar toe skop ek ’n
bohaai op. Hulle het elke noot en muntstuk uit my beursie gevat en my kaarte
vir my gelos.

“Ek was baie, baie kwaad en verneder. Hulle het my besteel en my
minderwaardig laat voel. Dis asof hulle wou bewys dat hulle in beheer is.

“Ek gaan nie jok nie. Ek’t op hulle geskreeu en gevloek (ná sy arrestasie),
maar dit was toe ál mag wat ek gehad het.”

Hunter het Vrydag reeds in die hof verskyn. Die saak is uitgestel.

Kapt. Jethro Mtshali, polisiewoordvoerder, het gesê indien Hunter se
bewerings waar is, die polisielede se optrede ten sterkste veroordeel word.
Hy het bevestig klagte van aanranding en verset teen arrestasie is teen
Hunter ingedien.

“As die klaer voel hy is onregverdig behandel, kan hy ’n brief aan die
stasiekommissaris rig of haar persoonlik gaan spreek.

Hy kan ook ’n klagte by die onafhanklike klagtedirektoraat (die waghond oor
die polisie) indien. My raad sou wees om ’n formele klag in te dien.”
Rudi
 
Posts: 405
Joined: Thu, 2006-03-30 08:42
Location: Sandton, South Africa

Return to Beeld

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron